20 Dae

20dae

Die woorde vorm en borrel tot op my tong net om met ‘n sug tot niks te kom.  26 letters wat my koggel agter die oneindige flikker van die wyser op die skerm.

Dit is vandag presies 20slapies dan mag ek bietjie huis toe. Weskus toe. Na my mense toe. Na lag toe. Na songebakte warm seesand en seelug wat ryk is aan ‘n eiesoortige sout-bamboesreuk.

Na mense wat sommer by die agterdeur instap en koffie soek of wat met sononder langs jou op die stoep sit met ‘n glasie rooi en die dag se einde sonder woorde afsluit.

Vroegoggend se chaos van te veel mense met te min warm water. ‘n Koor van stemme wat toast soek as jy dit waag in die kombuis. Kinderstemme wat skril jil as jy lui soos ‘n huiskat in die middagson lê en boeklees.

Luidrugtige bure wat sommer van hulle balkon na joune roep : “Môre buurvrou! Kom drink jy tee?” en jy wat op dieselfde trant antwoord.

Harde stemme om ‘n vuur wat gelyk praat oor drie verskillende onderwerpe. Vars hotnotsvis sommer so van sy ma gaar gemaak en kreef wat geduldig wag vir vingers om dit te breek vir die kosbare lekker in die binnekant. Alles vandag uitgehaal vir vandag. Wat ons nie kan eet word weggegee, want dit is hoe jy dit doen. Nog altyd.

Ek het my mense nodig soos ek hulle nog nooit nodig gehad het nie.

Dit is vandag presies 20slapies voor ek mag huis toe gaan.

7 thoughts on “20 Dae

Lewer kommentaar