Volksvreemd

Die afgelope tyd is ek onderworpe aan ‘n totale volksvreemde konsep vir my.

Tema-troues.

Ek was laas op die regte bladsy toe mense nog in kleurskemas getrou het.

Iemand kom sien my vir ‘ons soek goedjies vir ons troue’ en ek wonder nog by myself nou wat de vrek ek dan kan maak daarvoor, maar wie is ek om te veel vrae te vra.  Is ‘n Travel Theme en ons soek vliegtuigies en kompasse.  Ek het seker my gesig vreemd getrek, want ek word gevra “jy verstaan Travel Theme né?”

Gits nee meisie, ek doen nie.  Vir die beste wil verstaan ek nie ‘n Travel Theme troue nie, maar ons kan die vliegtuigies en kompassse doen, geen probleem.

Sit die volgende dag af na my vriendin se kombuis om klaring te kry vir hierdie vreemde konsep wat homself by my aangemeld het.  Blykbaar is ek regtig ‘n hele paar hoofstukke agter.  Eintlik meer ‘n boek of twinting.  Uit die aard van haar besigheid is sy toe op die regte blad en bring my toe op hoogte van hoe dinge nou gedoen word.

Ek is stom.  Waarlik.  Wanneer het alles so merske tema kompetisie geword en wat is fout met die mense?

Ek verstaan ‘n Barney-Theme kinderpartyjie.  Ek kop egter nie ‘n Barney-Theme kinderpartytjie met Barney wat ingevlieg word vir die okkasie nie. Ook nie dat die ouers ‘n piekniekmandjie en hulle dop moet bring nie, want dit is sommer ‘n heeldag storie.

Ek verstaan ‘n blou-tema vir die seuntjie baba wat oppad is.  Ek kop glad nie hoe mense sonder enige skaamte kan vra op die uitnodiging vir ‘n stootkarretjie, spesifieke grootte doeke en klere nie.  By die naam en winkel word daar gevra.

Wanneer het mense so skaamteloos geword?  Wanneer het dit oraait en aanvaarbaar geword?

Hoekom is dit vir mense so ongelooflik belangrik om teen belaglike pryse ‘n ‘aanvaarbare’ front voor te hou?

Aanvaarbaar vir wie?

Gee my old fashioned kinderpartytjies waar die kindertjies soos wilde wragtags rondhol en mekaar met stokke wil dood donner en ‘n kômmin kaalvoet troue op die plaas eerder.  Sommer hotdogs en aartappelslaai met ‘n bak chips en rooi koeldrank.  Spitbraai met koeksisters en mense wat kuier om ‘n langtafel.

Dalk is my konsep van kwaliteit en waardevol dalk net te outyds om by te hou met wat ‘aanvaarbaar’ is vir die Joneses.

Doellose Woorde

Ek het ‘n vriendin.  Klavier kan sy nie speel nie, maar sy het ‘n kombuis.  ‘n Kombuis waar jy tee in ‘n beker kry en daar altyd tyd gemaak word vir ‘n geselsie.  Al gaan dit hoe dol daar.

Hierdie was nie ‘n maklike week nie. Die vermoede is baie sterk in my as ek nog ‘n enkele keer hoor ‘maar ek het dit nog altyd so gedoen’, gaan ek bes moontlik moet leer om met oranje saam te leef.

Min dinge daag ‘n mens uit soos Parkinsons en ‘n ma wat weier om aan te pas.  Wat weier om haar persepsie te verander.  Wat weier om te aanvaar sy kan nie meer dinge doen soos sy dit altyd gedoen het nie.  Wat glo dat al wat haar dogter doen is baklei met haar oor ek herhaaldelik vir haar dwing om dinge anders te begin doen om haar siekte te akkomodeer.

Was dit nie vir daardie kombuis en die hoekie waar ek kon gaan sit nie, weet ek waarlik nie.  Wanneer jy skewe kop gekyk en gesê word “jy gaan net nie sit en tjank in my kombuis nie”, dan glimlag jy maar.  Jy sit jou een voet voor die ander sonder dat jy weet hoe en jy glimlag.

Ek is so moedeloos oranje begin mooi klink.

Dalk dan sal die ander lede van hierdie familie my hulpkreet hoor en help eerder as kritiek uitdeel.  Hoe maklik gooi ons nie klip uit ons glashuise nie?  Sulke lekker grotes wat ander mense tot in die grond boor.  “Jy het mos geweet dit gaan moeilik wees”  “Jy en ma het nog nooit oor die weg gekom nie”.   Tot jy ontplof en in die foon inskrou soos ‘n spirits kop “Nou wie de fok sien jy wat nog bereid is om hier te wees en te kyk dat sy eet, dat sy pille drink, dat sy dokters toe?”

Stilte.  ‘n Lang lang stilte met net asem en geen woorde.

Parkinsons is nie vir pissies nie.

Nie vir die een wat daarmee moet leef nie en ook nie vir die mense wat saam met dit moet leef nie.

Dans

Dit reën uiteindelik in die namakwaland.

Boere kniel van dankbaarheid.

Droogte is niemand se maat nie en as die sluise oopmaak dan dans jy.