Gymkepades

gymkepadesGisteraand sit ek salig en mediteer op my eie in die sauna. Temperatuur net so duskant die hel met die effense mintreuk om die sinusse lekker oop te maak. Salig. Oë toe, kop teen die muur met my watertjie vir lafenis sit ek net en voel.

Dit is ‘n luukse wat ek myself vergun. ‘n Hele 20minute wat ek net niks doen nie. Niks praat nie. Niks luister nie. Net sit en niks. Partykeer sit en praat ek met my Abba. Bespreek openhartig my vrese en bekommernisse so in die stilte. Anderkere pak ek al die los gedagtes wat rond zoem in my kop weg. Elke keer leer ek iets van myself. Elke keer rus ek tot in my menswees. Elke keer wens ek myself geluk dat ek 20minute lank net niks gedoen het nie. Vir niks en niemand behalwe myself nie.

Terwyl ek in my euforiese swetende warm hel sit gaan die deur oop. Ek loer net so met die een oog en ignoreer die steuring. Asem salig in en uit met ‘n vreedsame kalmte wat ek nie kan verwoord nie.

Volgende oomblik omgeef ‘n wolk hitte my dat ek eintlik regop sit en snak na asem. Oë wat oopruk kyk en effens beneuk na die seun wat in geklok het met ‘n vraagteken duidelik op my gesig. Sal die toe gemaak onskuldig met opgetrekte skouers en waterbeker nog in die hand vir my sê : Dit is goed vir die toxins. Ek het amper my hand getoxin agter sy kop, maar rol toe net my skouers en sak terug en pas aan in die hoër temperatuur.

Alles in my het net weer lekker rustig geword sal die kind toe waar as wragtag WEER vir ons ‘n wolk hel-hitte opwerk dat my oë eintlik mistig word. Teen my gebruik vra ek hom toe – Is jy for real? Weer die onskuldige gesiggie wat vir my sê : Die hoër hitte maak die toxins uitkom. Dit help nie vir die vet nie, maar dit is regtig goed vir jou.  Dit was so amper soos dêmmit of ek het daardie kjênd en sy ‘dit help nie vir die vet nie’ oor die kop gedonner met my waterbottel.

Helaas, na 10minute se sauna was ek relatief rustig genoeg om net glimlaggend deur die water wat oor my gesig stroom vir die jong seun – wie se ma hom duidelik nie geleer het van die woord vet voor ‘n vrou nie – te sê : Sweetie, ek het duidelik ‘n gewigsvoordeel bo jou en val vir jou plat sonder om ‘n oog te knip as jy weer water op daardie ding gooi terwyl ek hier sit. Toxins of nie.

In vrede het ek my laaste 10minute gesit met geen verdere verhoogde temperature nie. Slim kind daardie – al het sy ma hom nie geleer van die woord vet nie.

Ek wil by jou weet

bezweni

Laatnag vee ek oudergewoonte oor my Vlooi-ink en wonder of jy weet dat ek elke aand vir jou nagsê.  Dat ek vroegoggend weer met my duim oor my ink vee en vir jou ‘n sagte goeiemôre soen gee.

Jy het getwyfel.

Met berusting wat grens aan bitterheid draai ek die krale om my arm waarmee Vlooi daagliks toegemaak word.  Dit is vir my wat dit op my arm is. Vir niemand anders nie.

Jy het getwyfel.

My gedagtes skryf al dae lank vir jou in ‘n poging om s’n te maak uit die leegheid en amperse vreemdheid wat stil in my posgevat het.  Die oomblik as ek die woorde wil laat vorm op papier is dit weg.  As ek my oë toemaak sien ek wat ek voel, maar dit weier om woordvorm in te neem.

 Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of die prys wat jy betaal vir jou leuns waarlik dit werd is.  Ek wil voor jou staan en fluister in jou oor : onthou jy.  Ek wil my hand op jou hart sit en voel hoe dit klop.  Ek wil my kop in die holte van jou skouer sit en voel hoe jy my toevou in my arms.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om waar as agtig te glo net om te sien jou drome word een vir een weggepak vir ander mense se onthalwe.  Ek wil vir jou die seebottel gee en vra of jy weet – of regtig egtig egtig weet – hoeveel ek van myself vir jou oopgemaak het.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om dag vir dag te sit en wag vir ‘n krummeltjie omgee.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe diep dit sny as iemand ‘n deur in jou menswees toeklap.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om nie meer te kan huil nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om met jou hart in jou hande te staan voor iemand en te vra : asseblief net om ignoreer te word.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit proe as jy nie genoeg is nie.  Ek wil vir jou vra of jou siel al gevoel het wat minderwaardigheid is. Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om een iets te hoor en elke dag iets anders te sien.  Ek wil vir jou vra of jy verstaan hoekom ‘n mens dan nie meer glo nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil jou hand neem en dit op my hart sit en vra : as nie eens dit genoeg is om jou te laat glo in die opregtheid van my menswees nie, hoe kan ek dan ooit genoeg wees vir jou?

Verloor

stop

Ek wonder of mens werklik besef watter voorreg dit is om te voel. Emosies is iets wat vanselfsprekend is tot jy daardie deel van jou verloor.

Trane is iets wat jy doen in die nag as die donker veilig om jou vou. Dan mag jy dubbel vou op jou stoel met die kombers krampagtig vasgeklou om jou skouers. Skouers wat rukkend mag buig onder die seer wat net nie wil toegroei nie. Die asem wat hortend oor jou  lippe kom mag jou naam fluister terwyl jy smekend bid vir vergifenis. Vir jouself.

Dan iewers verloor jy selfs dit. Daardie tikkie menswees en swakwees sterf ook. Trane brand genadeloos. Met een asemteug word jou skouers kamstig sterk terug getrek terwyl die stilte in jou weergalm.

Iewers word dit so koud in jou dat lag vreemd klink in jou eie ore. Die strakheid van swart en wit vervang elke skakering van grys en realiteit kom sit en lag honend langs jou.

Somtyds wil ‘n flikkering van warmte in jou beur deur die donker. Moedig soos ‘n skoenlapper teen die wind wil die hitte die koue verdryf. Dan onthou jy en alles word stil. Jy kyk af na jou pols en sien Vlooi ge-ets daar en besef selfs dit is ‘n leun. Net jy mag weet wat dit beteken. Vir al die ander word daar gelieg.

Nie jok nie. Jok is wat jy doen as iemand vra of jy oraait is en jy glimlaggend sê – altyd. Lieg is ‘n leefwyse. Dit is ‘n denkwyse. Dit raak deel van jou soos asem. Kom lê bittersoet soos melasse om jou.

Wanneer die tyd reg is sal ek myself kan vergewe dat ek geglo het. Tot dan sal ek oraait wees.

Die prys is betaal en ek het verloor. Dit is reg dat dit so is.