Elke Oggend

sleep_swimDonker-oggend lê ek en Katykat knus op die bed.  Luilomerig tussen droom en realiteit met oë wat krapperig eerder gesluit bly terwyl jou ore luister na die nag.  Skrefiesoog loer ek na die horlosie en wil oombliklik eerder nie die tyd gesien het nie.

My gedagtes doen die deelsom van die ure wat oorbly van die nag minus die swemtyd vs verander die alarmtyd eerder net en los die somme vir later.  Uit daardie probeer regverdig hoekom ek regtig nie hoef op te staan en in die donker koue uit te gaan nie, wonder ek hoe ek dan wil uitkom waar ek wil wees, terwyl ek redes soek hoekom ek nie hoef te gaan nie.

Ons wil gelukkig wees, maar is te bang om ons ware kleure te wys.

Ons wil gewig verloor, maar wil nie die koekies en tjippe los nie.

Ons wil hê mense moet ons verstaan, maar vertel nooit die hele waarheid nie.

Ons wil dat ons kinders luister, maar het nie 5minute om vir hulle te luister nie.

Ons wil so baie dinge, maar is nie altyd bereidwillig om die skouers terug te trek en te werk daarvoor nie.  Om opofferings daarvoor te maak. Om bietjie prys te gee nie.

Verantwoording wil ons ook nie graag doen vir die deel wat ons speel in die gebrek van wat ons eintlik wil hê of doen nie.  Dit beteken jy kan nie iemand anders blameer nie.  Nogal nie maklik as jy moet erken dit is jy en net jy wat ‘skuldig’ is nie.

If something is important to you, you will find a way.  If not, you will find an excuse.

Net so voor die slaapnewels hulle tuis maak in my gedagtes gaan die alarm af.  Dit is swemtyd.  Met meer wol as breinselle staan ek op, trek aan en strompel die trap af.  Dit is steeds effens vaag hoe ek dit gehaal het tot by die water en iewers onthou ek dat ek mense gegroet het.  Oë wat skreef teen die skerplig met alles wat gil dat dit seer is en ek wil so graag nog bietjie slaap sak ek in die te koud na my s’n water en begin swem.

My knie voel of dit skeur uit sy ligamente en my arms behoort beslis aan iemand anders, maar ek swem.  Met die terug swem van die lengte vind ek my ritme in die water en my knie onthou dat daar nie weerstand is nie, net strelende water.  Draai en ek begin sien hoe die ligte op die water speel. Draai en my arms behoort weer aan my.  Draai en ‘n glimlag speel om my mond terwyl ek die lekker van die soelwater voel speel oor my.  Draai en ek sê dankie dat ek genoeg omgee vir myself om deur pyn te werk.

Die nag was dalk net 3ure lank vir my en na ‘n dag wat ek teen dubbel my normale spoed moes werk is ek waarlik liggaamlik vodde, maar ek weet waar ek wil wees en ek sal daar uitkom.  Vir my is dit belangrik genoeg dat ek nie verskonings soek nie, al is dit hoe maklik om dit te doen.

Ek wil glo dat die stem wat stilsag in my hart gesê het “maar hoe wil jy beter word as jy nie deur jou pyn werk nie” was Abba om my te herinner dat pyn nodig is.  Liggaamlik of emosioneel.  Wat jy doen daarmee bepaal of jy leef of sterf binne jouself.

Every morning you have the same two choices:

1. Continue to sleep with your dreams

2. Wake up and chase them

Veilige Ruimtes

a

Die naweek het ek bietjie klas geloop.  Meer geleer oor veilige ruimtes, vertroue en hoe om iemand deel te maak van ‘n storie.  Nie ‘n buitestaander nie, maar eerder ‘n deelnemer.

Ek kan die ironie daarin sien dat juis ek genooi is, maar teen my beterwete het ek aangemeld.

Saterdag sluit ons af en ek is moeg.  Daardie binne moeg want die man het krake oopgedruk wat ek nie wil oop hê nie en die spieël regop voor my neergesit.  Wat weerkaats jou spieël?

Ek gaan groet vir A wat my genooi het.  Ons stap al ‘n tydjie ‘n pad wat healing en spiritual welfare betref en hy het die gawe (ghmpf) om deur hierdie Vlooikind se muur te sien.  Hy weet hoe diep die hele proses my geraak het en druk my arm net – alte goed weet hy hoe ek oor my spasie voel – en sê :  you made me proud.

Daar wil ek in trane uitbars want met daardie klein gebaar het hy soveel gesê.  P staan nader en voor ek click wat aangaan gee hy vir my ‘n drukkie en sê : ek wil net vir jou dankie sê dat jy my vertrou het in die hele proses.

Somtyds is dit vreemde buitemense wat jou soos ‘n iemand êrens laat voel

Somtyds is dit die mense wat naaste aan jou hart is wat die blindste en doofste is

Somtyds moet jy die veiligheid van ‘n spasie vertrou al wil alles in jou teenkanting maak

Somtyds is dit nodig om waarlik te luister en te sien wat die spieël weerkaats