Alles Behalwe Rus

eie foto van die eie vlaktes waar ons gestaan het

eie foto van die eie vlaktes waar ons gestaan het

Sedert 5 Julie weet ek nie of ek moet lag of huil of net histeries die vlak moet in hardloop nie.   Verkieslik met hande wat waai en ‘n paar pienk haasore op my kop.  Vir die aan die hardloop gaan nou.

My rustyd het afgeskop met my getroue Gloria-karretjie wat met ons gaan staan het tussen niks en nêrens.  110km voor Upington se kant van die kaart om presies te wees.  Dit is die somtotaal van alle woorde wat ek kan vorm sonder om een van bogenoemde opsies uit te oefen. Ek kan wel vandag sê dat niemand maar NIEMAND stop as jy langs die pad staan nie, OUTsurance is wragtag so nice soos die advertensie sê hulle is en dat dit nie in my sit om nice te bly na 20ure op die pad nie.

Gloria is steeds in Upington.  Greyhound sien my nooit weer nie.  Ek sal veel eerder met grasie en hakskoene stap as om vrywillig verplig enige van hulle dienste te bestyg weer.  Dit is ook al wat ek geskryf kry oor die deel van die rustyd.

Hierdie week het my werksgewys tot duskant die horison gedruk, maar ek is met dankbaarheid gevul vir die werksbakkie wat my heen en terug vervoer – so ek vreet maar wat op my bord gesit word.

Ek is op my rims en nog ‘n dag verder.  Tog het ek vandag hard en onbekend gelag toe ‘n effense dof foutjie wat ek gemaak het aan my uitgewys is met ‘n droeë ‘Dory sal altyd deel bly van jou, maak nie saak in watter kantoor jy sit nie’.

Die naweek doen ek niks behalwe onder my kombersie sit en series kyk nie.  Dit is nou as ek nie met pienk haasore die pad vat nie.

VisTerapie

droom

My Engelkind word die naweek gebless met ‘n groter tenk vir haar goudvissies wat ‘n Sondagaand met eindlose uitdagings tot gevolg het.  Ek is waarlik nie ‘n groot vissie-mens nie dus  weet ek net dat hulle moet kos kry en het water nodig om te oorleef.  Engelkind is egter vreeslik erg oor haar Fantail Goldfish – dit is nie NET ‘n goudvissie nie mamma – en ouers ondersteun mos hulle kinders. 

Ek weet dan nou ook hoe om ‘n hoekfilter aan mekaar te sit en suksesvol te vul met houtskool en daardie wolgoete.  Ook dat jy die pypie nie net in enige gat kan druk en hoop vir die beste nie.  Sondagaande is nie bevorderlik vir vis-herplanting nie en Google is regtig baie behulpsaam.

Nadat die hele petalje hom afgespeel het en alles en almal min of meer tot rus gekom het, sit ek op Engelkind se bed en betrag die vissies.  Volgens oorlewering is dit terapeuties om te kyk hoe visse swem.  Die stomme goedjies swem al in die een hoek en om die draai en terug in die hoek.  Al in die rondte soos die intelligente wesens wat hulle is.  Ek kyk en dink by myself dat as hierdie terapeuties is, is ek ‘n visvinger, maar ek kyk.

Terwyl ek terapie ontvang begin my oë die omtrek van hulle swem meet met die grootte van die vorige hok.   Bingo.  Hulle besef nie daar is ‘n hele nuwe wêreld vir hulle nie.  Muscle-memory (as visse ooit so iets het) maak dat hulle nie buite die raamwerk van ‘dit is al wat ek het’ kan beweeg nie.

Dit gaan anyway nie anders wees nie – maak dat hulle nie eens kyk of hulle verder kan swem nie

Wat help dit ek probeer – maak dat hulle dan nou nie eens probeer nie , want hulle het klaar besluit dit sal nie werk nie

Ek weet mos dit is hoe dit is / gaan wees – maak dat ¾ van hulle nuwe groter beter wonderlike nuwe wêreld net daar lê

Jy verstaan nie – maak dat hulle blind is vir die feit dat hulle eintlik die stomme goedjies is wat nie verstaan nie

Ek is te bang – maak dat hulle steeds in hulle eie tronk rondswem

Dit wil vir my voorkom of Fantail Goldfish dalk meer as ‘net goudvissies’ kan wees.

Solank jou oë oop is sal jy leer

Solank jy bereid is om te waag sal nuwe wêrelde vir jou oopgaan

Solank jy te gemaklik is in jou zone, gaan en sal jy nooit weet wat jy eintlik kan hê nie

To the degree we’re not living our dreams, our comfort zone has more control of us than we have over ourselves.

Forseer jouself uit jou muscle-memory-zone.  Al is dit hoe vrek moeilik.  Jy het nie ‘n benul wat jy mis oor jy bang is nie.

Die bank vra jy? Daardie is my droombank en net Gog sal verstaan hoekom visse en bont-droombanke in my wêreld 100% s’n maak = )