Hier moet iemand vandag vir my help, want my kop is te plat daarvoor.
Endearments is wat die Engelse dit noem. Afrikaans rol so lekker van jou tong af – troetelnaam. Ons almal het ‘n ‘ander’ naam waarop ons reageer. Vlooi is nogal nie ‘n naam wat ek sommer uit die lug gegryp het nie. Iemand na aan my hart het my altyd so genoem tot ek hom verloor het deur sy keuses. Ek sal egter altyd Vlooi bly. Dit is selfs ‘n tattoo op my pols. Dit is meer as net ‘n troetelnaam. Dit is my elke dag herinnering dat ek op ‘n tyd iets werd was en paar ander goed wat ek nog nie kan vasvang in woorde nie. Miskien is dit oor ek nie regtig wil nie?
Liefie, Duifie, Gog, Hartjie, Dingetjie – ag die lys is eindloos en ek kry partykeer ‘n binne glimlag as ek luister na die name wat mense ‘heg’ aan hulle geliefdes. My stomme Engelkind se ruggraat trek eintlik reguit as ek haar op haar naam en van roep, want dan weet sy die level van moeilikheid waarin sy is, is erg. Wat my verstand te bowe gaan is hoe ‘n man en ‘n vrou mekaar pappa en mamma kan noem en dan – hou swak hart – die dag wat daar kleinkinders arriveer word hulle ‘opgradeer’ na oupa en ouma.
Allemagtag mense, van alles wat jy iemand na jou aan hart kan noem, noem jy die een met wie jy jou bed deel pappa of ouma?! Dit kan nie net ek wees wat dink Freud sal ‘n field day hê met die nuance daaragter nie. Verloor jy jou identiteit so in ‘n huwelik dat jy slegs as mamma of pappa kan funksioneer en dan skuif daardie rol oor na die kleinkind en sodoende vorm jy jou nuwe identiteit as grootouer? Honestly I don’t get it.
‘n Tydjie terug kuier ek by my vriendin en ek tel die pappa en mamma op wat hulle mekaar noem en hou my in tot die kinders gaan slaap en vra haar prontuit – hoekom noem jy jou man Pappa? Regtig? Pappa? Daar bars sy uit van die lag en sê, weet jy – ek kom dit nie eens agter nie, want ek sê heeltyd vir die kinders van pappa dit en pappa dat. Sy let nou nog daarop om haar man iets anders as pappa te noem. Die prentjie wat ek haar geskets het sal ewig in haar bly. Daarvoor het ek gesorg.
Wanneer ons chaos-familie laer trek is daar meer as een ma en meer as een ouma. Om verwarring te voorkom roep ons dan Ouma Mellie of Ouma Bets, maar as te nimmer spreek ek my ma as ouma aan nie. Sy is mos my ma – nie my ouma nie. My ouma is ouma en my ma is ma en as dit die Here se wil is (en ek ooit weer iemand genoeg sal vertrou) dat ek ‘n man het in my lewe groei ek eerder rughare wat op die grondsleep as wat ek hom pappa of oupa noem.
Jou man is jou man. Nie jou pappa nie. Dit is die persoon met wie jy jou bed en jou hart deel (as jy gelukkig is). Hoe noem jy iemand pappa of oupa as jy langs hom in die kooi lê? Al relatiewe sinvolle rede wat ek aan kan dink is dat nie een van die twee meer ‘n identeit buite die rol van pappa of mamma het nie en dit is net ongelooflik hartseer. Ek dink dan word die hele punt en doel van ‘n huwelik gemis as alles wentel om die kinders en kleinkinders. As die toegang tot jou kinders en kleinkinders die rede is hoekom jy jou vrou as mamma aanspreek, is ek waarlik dankbaar ek is alleenlopend. Kan dit wees dat jy die persoon nie as enige iets ander sien as die pa van jou kinders en die oupa van jou kleinkinders nie? Dit is nog meer hartseer.
Nick Vujicic sê (onder andere) : If you think being single is lonely, try being married to the wrong person.
Somtyds moet jy hoor wat jy sê
Somtyds moet jy luister hoe dit vir ander klink
Somtyds moet jy vir jouself vra hoekom jy dink jy ongelukkig is
Somtyds is die grootste geskenk wat jy jouself kan gee om gemaklik te wees in jou eie identiteit