Winter Woorde

alone

Laatnag roep die nag stilte my na buite.  Arms gevou om myself staan ek op die stoep en drink die bekende donker stilte om my in.  My oë trek lyne tussen die  silhouette terwyl ek honger luister na die sagte fluister storie van die wind.

Hoeveel nagte het ek al so op die stoep deurgebring?

Soel somernagte met die kriek-liedere het plek gemaak vir die strak stilte van kamma-dood winter.  Die bome se amper kaal takke strek uit na die hemel.  Smekend.  Gestroop van alles wat dui op lewe.  Herfsblare dartel nog plek plek speels in die wind.  Lê vuil en vertrap in die stegies en wag om weggespoel te word.  Nog ‘n seisoen afgemerk.  Afgehandel om nooit weer aan my deur te klop nie.

Die see en sy meeue roep my.  My wese smag na die koue misreën wat om my val as ek sit op my rots terwyl branders dreun slaan om my.  Tog weier my voete steeds om te gaan.  Eenkeer.  Dit is hoeveelkeer ek hierdie jaar by my geliefde see was.  Slegs een enkele keer.  Ek wat die see in my are het.  Ek wat dans saam met die meeue op die strand.  Ek wat laggend kaalvoet in die vlak branders hardloop.  Ek wat tone gekrul in die sand sit en myself verloor in woorde terwyl die soutwind in my hare speel.  My geliefde see met sy duisend stories – as jy bereid is om te luister.

Ek wil nog nie opgewonde word nie – tog wil ek so graag met alles in my glo – dat ek wel oor ‘n week of wat my troue karretjie se neus kan draai Kalahari toe.  Na my mense toe.  Na aande om die vuur met mense wat my op hulle manier probeer verstaan en aanvaar.  Die rou omgee liefde van die rooi Kalahari sand is dalk net wat ek nodig het om weer te kan sit langs my geliefde see.