Met die eerste sontrale wat loer oor die bome teken ek in by my rekenaar en begin werk terwyl die dag breek. Sielsalige stilte met klassieke musiek wat die gemoed streel. Neem amper die doring uit die vlees dat ek groudag al sit en werk. Dit is darem ‘n troos dat ek dit van die gemak van my eie huis kan doen terwyl ek met my slippers aansit, maar steeds.
Terwyl ek nog so in my salige stilkokon sit – tussen die 8 woonstelle in die kompleks is ek die enigste oggendmens – en kyk hoe die lui winterson by die woonsteldeur inkruip hoor ek dit. Deure wat oop en toe gaan en voete wat slof na die parkeerarea. Voor ek behoorlik irriteerd word – is afterall net na 7 op ‘n Saterdagoggend – word water met die tuinslang in ‘n emmer getap en die nuwe intrekkers regs onder begin hulle kar was. My irritasie het dadelik oorgeslaan in ongeloof.
Ek mag verkeerd wees in my aanname – met die dat ek einaardige dinge doen in die nag as ek nie kan slaap nie – maar wie de dinges was hulle kar 7uur op ‘n Saterdagoggend!? Sekerlik is daar ander stil aktiwiteite wat jy in jou huis kan doen terwyl ek sielsalige klassieke musiek luister en my katte soos dassies in die son bak?
My oggend dinamiek is nou kanon toe en skielik moet ek eers kyk voor ek met my besemboshare in my pj’s op die stoep gaan sit met my koffie.
Dit is ‘n lieflike sonskynoggend en die herfslug wat deur die oop deure en vensters trek laat my hare eintlik krul van lekker. Vandag is die tipe dag wat jy kyk oor die berg, glimlag en dankie sê dat elke sintuig van jou wat kan die oggendlied saam met God se natuur sing.
… al moet jy werk = )

