Epiese Tog

So pak ek die tog aan om my Gloria-kar te gaan haal.  Uitdaging op uitdaging meld hom aan by my deur voor ek Vrydagoggend met my rugsak in die shuttle-service Bellville toe klim.  Erg vreeslike vriendelike mense wat my heimlik grensloos irriteer.

Die shuttle-service is ‘n ongelooflike oulike uitvindsel.  Tel jou by die huis op en laai jou by die ander deur af.  Oulik man, oulik.  Tot jy in geklim het en die ander mense opgetel moet word.  Alles in ‘n vooraf bepaalde tyd.

Agter in die hoekie het ek gaan sit.  In daardie einste hoekie het ek dan ook meer as eenmaal gebid dat iemand tog net my ma moet laat weet as ek dan nou hier in die vreemde moet vrek vandag.

Ek is nie groot op grondpad ry nie.  Sit my egter in ‘n bussie saam met vreemdes wat koekresepte uitruil terwyl Vettel se Africana-neef sulke wye swaaie en draaie ry voor daar met ‘n geskrou van brieke gestop word voor die volgende huis en ek bid in tale vir jou.  Alles terwyl ek met een hand die boek voor my neus hou en die ander hand met sulke wit geklemde kneukels klou aan die handvatsel.

So by tye het ek vlugtig opgekyk dat ek kan bepaal waar ons is, maar helaas, ek moes vrede maak dat ek in die vreemde gaan vrek en my ma gaan nie weet waar ek is nie.

Bo alle verwagtinge sak ons oor Sir Lowry’s en daar ruk daardie stuk blou water en berg ‘n pleister van ‘n seer af wat ek gerieflikheidshalwe probeer vergeet het.  Ek weet dan nou met ‘n sekerheid in my dat daardie rou wat ek toegeplak het nie eens amper genees het nie.  Die bloed is nie eens gestol nie.  Dit is steeds ‘n rou kloppende wond.  Sonder waarskuwing loop die trane onnodig warm.  Dankie vir ‘n sonbril wat kan wegsteek.

Draai toe maar my gesig weg van die mense en kyk kastig belangstellend na die omgewing.  Dit alles terwyl onthou-beelde en woorde in my slaan met die woede en vernietigende krag van ‘n orkaan.

Vir ‘n oomblik het ek gewens ons kan eerder weer Vettel-styl die grondpaaie gaan ry.

Op die vreemdste plekke gaan draai ons in Kaapstad en ek wonder hoe ek oor aantal maande gaan aanpas in die growwe vuilheid van die stad, maar Vettel is weer agter die stuur so ek knip die wonder kort en bid eerder weer in tale.

Met bewende knieë en ‘n persepsie wat uit sy kas geruk is klim ek uit die bussie by my stop en gaan sit op die bankie in die son en wag die bus Upington toe.  Luister hoe die vrou haar lewe uitblaker op ‘n foon terwyl haar kind ‘n gimnas in wording is op die andere bankies.  Hoe mense dit regkry om ‘n ander so sleg te sê te aanhore van wildvreemde ore is wyd en vêr bo my vuurmaakplek.  Dit bly jou kind se pa al wil jy sy kernokkels met ‘n stomp bottermens afsaag.  Jou geskenk.  Jou wondergawe.  Om so in die vreemde jou mond te sit en uitspoel is meer eenvoudig as ‘n pienk glitter flamingo op jou voorstoep.  Nooi jou vriendin en gaan raak getrek en sê die man sleg, maar voor jou kind is hy nie sleg nie. PUNT

Bestyg die tweede deel van die tog na my Gloria-kar en land langs ‘n vrou van Springbok.  Langs my oorkant die paadjie is ‘n man van Springbok.  Ek glimlag dat my tande blink.  Is mos my wêreld se mense.  Ons begin praat soos langverlore familie en voor ons by Malmesbury is praat ek my wêreld se dialek saam met my nuwe vriende.  Sommer so sonder dat ek agterkom is dit myse ma en muisiekind en nee dit was rondom so en so.  Myse wêreld se taal.  Myse wêreld se mense.

My hele menswees ontdooi terwyl ek die ongekende opregte vriendelikheid indrink.  Human-touch is iets wat ek nie meer ken nie en Abba gaan sit my langs ‘n vrou wat met haar hande praat.  Elke keer wat sy aan my arm vat om te gesels glimlag ek binne myself met ‘n warm custard gevoel.

Weet jy wat dit is om iemand te mag vashou?  Om sommer net oor nonsense te kan sit en gesels met iemand?  Sê jy nog dankie vir iets soos human-touch?

Met ons stop in Klawer wag my mamma en tannie vir my.  Die bustannie wou nog keer toe is ek reeds by die deur uit in my mamma se arms.  Hoe ek dit reg gekry het om weer terug te klim na 15minute weet ek nie.  Ek weet net dat niks jou beter en veiliger laat voel as jou mamma se arms nie.  Ek groet moeilik maar so oneindig dankbaar vir die vinnige hallo en veilig wat ek kon hê.  Om te groet is nie maklik nie, om iemand net nooit weer te sien nie is egter veel erger.

My nuutgevonde vriendin druk my arm toe ek kom sit en sê ‘dit is nooit maklik nie’ en waai kliphard saam met my terwyl ek snot en trane huil.  Myse wêreld se mense.

Die nag is oneindig lank en ek dink ek rafel en krap en karring oral in myself rond.  Met ‘n hot chocolate in my hand sit ek en kyk hoe die dag breek terwyl ons Upington inry.  Die Kalahari sal altyd ‘n sagte plek in my hart hê.

Oor die pad hotel toe om my sleutels te kry wat my niggie gereël het.  Helaas daar word ek verder herinner aan die opregtheid van mense.  My ontbyt is geboek en betaal.  Ek moet net gaan sit en lekker eet terwyl ek my tee’tjie drink.  Ook is daar vir my ‘n coolerbag vol eetgoedjies gepak vir die pad terug.  Saam met Kerneels die hond en Eejit die padda vir geselskap.  Die name het so met die pad saam geland.

Ek ry Upington uit in my Gloria-kar en die emosies oorval my.  24uur later en op elke denkbare manier is ek geleer en gewys en pleisters afgeruk.  Ek moet duskant 900km alleen ry deur die Karoo en ek weet nie of ek kan nie.  ‘n Telefoonoproep van Gog later en ek plak vir Kerneels en Eejit op die dashboard neer en begin gesels.

Oor my seer, oor my vrees, oor hoe ek alleen is, oor hoe ek nie meer wil nie, oor alles.  Sommer hardop.  Sonder om te traak.  Ek huil en ek lag en wonder by myself of ek dit finaal verloor het.

Yskoue water op die gesig later en kookwater wat ek bedel by ‘n kafee vir my tee (wat ek gevat het by die hotel) ry ek verder.  Die moeg lê loodswaar op my skouers en die veld is lankal nie meer mooi vir my nie.  Varslug is ook nie all it’s made out to be nie.  Ek is gatvol en moeg en smag met my hele wese na iemand wat net bietjie kan bestuur, want ek kan nie meer nie.

Hierdie tipe moeg het nie naam nie.  Woorde kan dit nie  beskryf nie.  Dit is ‘n tipe moeg wat jou dieper as diep in jou menswees laat grawe om verder te gaan.  As jy nog nie daar was nie sal jy nie verstaan nie.  As jy nog nie daar gegrawe het nie, sal jy ook nie verstaan hoe ‘n mens aangaan nie.

Ek oorweeg dit sterk om sommer veld in te donner om daar onder ‘n boom te gaan lê, maar statisiek maak dat ek, Kerneels en Eejit verder ry.  By Beaufort-Wes sê die bordjie sê ek het minder as 300km oor.

Maak nog ‘n blikke Red Bull oop, trek my skouers terug en belowe myself dat as ek hierdie kan doen ek nie gou weer sal twyfel in my eie vermoë nie.  Snaaks wat ‘n mens nie alles belowe en voorhou as ‘bewys stukke’ nie.  As motivering en beweegrede hoekom iets gedoen word of nie gedoen word nie.  Eintlik het ek net vir myself vere om ‘n realiteit geplak dat dit beter kan lyk.

Hoe ek die laaste 60km van my epiese tog gery het weet ek nie.  Alles was in stadige spoed op daardie stadium.  Die barrier en die gruis was duidelike wake-up calls gewees en die oorweging was sterk om verder te hike.

Ek weet wel dat toe ek oor die knop van my geliefde berg ry en die see en dorp lê voor my het ek begin huil.  Daardie stil huil wat uit jou siel kom.  ‘n Moeg huil wat met dankbaarheid gevul was.

Ek het steeds nie na behore geslaap nie, tenspyte van medikasie.  Alles pyn.  Ek is so moeg dat ek nie eens my moer kan strip nie.

Ek weet eintlik glad nie wat ek probeer sê met hierdie hoop woorde nie.  Ek weet net Abba se genade is ongekend groot en sonder Hom sou ek dit nie maak nie.  Ook dat Gloria terug is – vir nou.  Kerneels en Eejit mag en sal nooit uitpraat nie en my Engelkind het my styf vasgehou en gesê ‘dankie dat Mamma veilig is’.

Die res is dan seker nie relevant nie.

Kerneels & Eejit

Kerneels & Eejit

Pryslose Juweel

Ons het ongelooflike talentvolle kunstenaars wat van hare-regop-staan tot suiwer pienk-bubblegum-pop sing.  Iewers hoor iemand twee uiterstes, voeg dit saam en ‘n stil oomblik word gebore

Gebed van die Vreeslose

Voshaarnooi

‘n Groot gunsteling van my wat my vandag sommer in trane het.

Soms is dit net te leeg in jou om vol te bly

Faith

empty

Dit is nog net vier slapies dan rol my Gloria-wiele Kalahari toe.  My broerskind tel saam met my slapies en het my gister herinner dat ek en sy ‘n bed gaan deel ‘want ek mis jou net te veel Tannie Sonja’.  My hart is loodswaar – tog klop dit warm custard op hierdie Maandag want iemand iewers tel slapies dat hulle by my kan wees.  

faith includes noticing the mess, the emptiness and discomfort and letting it be there until some light returns

Ek Onthou

Ek verlang my wortel-wêreld baie die afgelope tyd.  My hartsmense lê swaar op my hart en ek sal my voortande verruil vir ‘n beker tee saam met my sielsvriendin.  Ek sit en ploeg deur ‘n berg werk en die mense jaag mekaar weer net nie met messe in die gange op en af nie.  All-and-all ‘n absolute lieflike Dinsdag.

My genadegawe is dat ek ‘n eie gaatjie het met ‘n deur wat ek kan toemaak. Musiek is my ontvlutgting en hierdie juweel kruis my pad weer vandag.  Dit neem my op ‘n pad vol onthou toe ek kind was en ons vakansies met die karavaan iewers heen gegaan het.  My Dad was ‘n suiwer 100% Namakwalander.  Sy hart het daisies-gepomp en groente was iets wat my ma hom geleer het om te eet.  My mamahen is ‘n Suid-Kaap kind wat musiek in haar are het.  Sing en musiek is soos asemhaal vir daardie deel van my wortels. As ek ooit die kosbaarheid kan hê wat hulle gehad het, sal ek elke liewe dag onthou om dankie te sê vir die geskenk van Bo.

Wie kan Hooked on Classics onthou? Ek sien voor my oë hoe my groter as die lewe Namakwalanner Dad sit agter die stuurwiel en neurie met sy diep basstem terwyl die wysvinger ritme hou en my ma wat hand op sy been sit en soprano saam met hom neurie.

Ek het gesoek tot ek hierdie groot gunsteling van my Dad gekry het.

Somtyds word vrede oor jou pad gestuur op die einaardigste manier.

  • Piano Concerto no. 1 in B flat minor Op 23 / Tchaikovsky
  • Flight of the Bumblebee / Rimsky-Korsakov
  • Symphony no. 40 in G minor / Mozart
  • Rhapsody in Blue / Gershwin
  • Karelia Suite Op 11 / Sibelius
  • Symphony no. 5 in C minor Op 67 / Beethoven
  • Toccata in D minor / JS Bach
  • Serenade no. 13 in G major – ‘Eine Kleine Nachtmusik’ / Mozart
  • Symphony no. 9 in D minor Op 125 / Beethoven
  • Overture to William Tell / Rossini
  • Le nozze di Figaro / Mozart
  • Romeo & Juliet Fantasy Overture / Tchaikovsky
  • Trumpet Voluntary / Clarke (the listed title is a common misconception; the correct title is “Prince of Denmark’s March”)
  • Hallelujah Chorus / Handel
  • Piano Concerto in A minor Op 16 / Grieg
  • March of the Toreadors / Bizet
  • 1812 Overture / Tchaikovsky