Treffende Waarheid

Hierdie epos land by my vroegoggend en lanklaas het ek meer akkurate waar woorde gelees.  Ek is nie ‘n groot vaandel draer van die betrokke skrywer nie (inteendeel), maar ek gee erkenning waar dit toekom en hierdie is briljant op die been geskryf.

“Baie mense beskou blykbaar diefstal en roof as heel aanvaarbaar, jy moet net beweer jy was daartoe gedryf deur honger, gebrek, apartheid of die waan dat jou oer-voorouers onderdruk was … Laat ons dus maar vandag oor ‘n paar sake reguit praat:

‘n Mens steel nie omdat jy honger of arm is nie – jy steel omdat jy skelm is. Niemand was nog ooit in hierdie land so volledig onderdruk soos die Afrikaner na die Tweede Vryheidsoorlog nie.

Ons voorouers wat die oorlog en die konsentrasiekampe oorleef het, het na die doodse leegheid van vernietigde plase teruggekeer – uitgehonger, hartseer en verpletter. Maar hulle het nie geroof en gemoor en gesteel nie.  Hulle het met harde werk, deursettingsvermoë en swaarkry so presteer dat hulle weldra nie net hulleself nie, maar ook hulle huidige onderdukkers, goed kon versorg.

Toe hulle kinders in Engelse skole gestop is en gestraf is as hulle dit durf waag het om Afrikaans te praat, het hulle nie klippe gegooi en skole afgebrand en geweld gepleeg nie. Hulle het hard geleer, hulle eie CVO -skole gestig en uiteindelik bo uitgekom sodat die Afrikaner vandag vir niemand op akademiese, tegnologiese of wetenskaplike gebied terug hoef te staan nie.

‘n Mens moor nie omdat jy voorheen benadeel is of omdat jou werkgewer jou nie tederlik genoeg behandel nie – ‘n mens moor omdat jy ‘n barbaar is wat nie verdien om deel van die samelewing te wees nie.

Na die Tweede Vryheidsoorlog het Afrikanermynwerkers absoluut geen regte gehad nie en moes hulle hulle gesinne met minder as ‘n hongerloon probeer onderhou. Maar hulle het nie bejaardes gaan doodmartel en gesinne uitgemoor nie.

‘n Mens word nie ‘n agtergeblewene omdat iemand anders nie genoeg vir jou doen nie. ‘n Mens word ‘n agterblyer omdat jy nie presteer nie.  Niemand het die Afrikaner na die Tweede Vryheidsoorlog vooruit gehelp nie – ons het self gewerk en volhard om sukses te behaal.

En elke ding wat ons het, het ons verwerf.

As alles altyd vir jou verkeerd loop sodat jy voel jy maak nooit enige vordering nie, is dit dalk ‘n goeie gedagte om op te hou soek wie anders as jy self vir al jou ellende verantwoordelik is.  Ruk jou reg en presteer jouself in die voorspoed in. En dit geld vir ons eie mense ook. Net ons eie werk, prestasie en geloof gaan bepaal of ons as agterblyers in die vergetelheid gaan wegsink en of ons weer as trotse, beskaafde, gerespekteerde volk sal opstaan.

Selfs in die nuwe Suid-Afrika is daar steeds geleenthede vir vindingryke, geesdriftige mense wat bereid is om hard te werk en vir hulleself ‘n toekoms los te spook.

Mag die Afrikaner nooit pateties raak nie … Steve (Hofmeyer)”

Ek traak bôggerol

Gistermiddag het die besef net weer kom sit in my dat as jy ‘n vrou is en jy is enkellopend en iets meganies breek sal en gaan jy vir ‘n gat gevat word.  Die enigste manier wat iemand maak of hulle luister is as jy jou stem met so 98grade laat verkil, hulle reguit in die oë kyk en sê : Daar is jou geld. Ek en jy weet albei ek word vir ‘n gat gevat, maar oor ek nie beskik oor genoegsame tegniese kennis of iemand het wat namens my kan praat nie is hierdie op jou – nie my nie.

Met ‘n moermeter wat deur die rooi breek is ek terug na my woonstel en daar breek die damwal in al sy glorie.  Weke en weke se teleurstelling en ontnugtering en seer en sommer alles wat ek nie kan verwoord nie bars en ek sak dood eenvoudig voor my yskas op die teëls neer en huil.

Ek huil kliphard sonder skaamte.   Sonder om vir myself te sê ”maar jy is mos sterk’, sonder om trane af te vee en skouers terug te trek, sonder omgee huil ek.  My neus vee ek sommer so met die agterkant van my bebalde vuis af en die trane loop sonder omgee oor my wange tot in my nek.  Ek het hard en sonder terughou uit my stukkende binneste gehuil oor alles net te veel was vir my op daardie oomblik.  Ek het rousnikke deur my laat breek tot die laaste brander en ek leegstil met my kop op my knieë bly sit het.

Daar het ek gesit tot ek gevoel het ek kan die lewe weer in die oë kyk.  Na die uitbarsting het ‘n bedonnergeid plek ingeneem langs die leegstilte.   Met my skouers terug het ek vir Engelkind gelaai en gesê : “Sowaar as wragtag maak ons daardie onheilige soet koekies vanaand!”  Die hand wat stil om myne gevou het en gesê het : “Dit sal oraait wees Mamma” het my amper weer op die teëls gehad, maar die omgee wat ek in daardie kosbare kind van my se oë gesien het.  Niks op hierdie aarde kan daarby kers vashou nie.

Terwyl ‘n storm in die vorm van reën, wind wat die bome laat ombuig, donderweer, blits en liters en liters reën uit die hemele buite woed, staan ek en Engelkind en bou daardie onheilige soetkoekies.  Ons gesels omgee-stories terwyl ons bak en die warm soetreuk van liefde deur ons woonstel trek.   ‘n Kalm stilte het kom lê in my terwyl die natuur buite alles met alle geweld probeer afbreek.

Die volgende woorde het gevorm in my hart terwyl ek daar staan: Is dit nie maar hoe jou storm ook ‘n tydjie terug was nie? Wou jy nie ook alles afbreek nie?  Het jy nie ook gevou onder die aanslag nie?

My binneste is regtig rou vandag, maar ek besef hoe nodig dit was dat daardie dam so sonder enige vorm van grasie of vrouwees gebreek het.  Ek is steeds beneuk oor die persoon wat ek genader het vir hulp weer geskitter het in sy afwesigheid.  Dit gaan waarlik my verstand te bowe hoekom jy nie enige vorm van erkenning kan gee aan iemand wat uitreik na jou nie.  My tegniese kennis is steeds duskant niks en dit vryf my onnodig verkeerd op dat mense jou uitbuit oor jou gebrekkige kennis daaroor.  Dit grief my dat ek soos ‘n opperste heks moes staan en ‘n verbale oorlog moes voer oor beginsel.  ‘n Honderd rand gaan my nou wraggies op hierdie tydstip nie armer los as wat ek is aan geldwaarde nie.

Alles omtrent gistermiddag het saamgewerk om ‘n onnodige hoë muur moer toe te breek.

Alles omtrent gistermiddag het my geleer dat dade soveel harder gil as wat woorde ooit kan doen.

Alles omtrent gistermiddag het my laat stil word voor my Abba Vader

Alles omtrent gistermiddag het gemaak dat ek my langlyf kind teen my vou en dankie sê vir haar verdraagsaamheid, liefde, omgee, daarwees, lag, gesels – ag alles wat sy is

Alles omtrent gistermiddag het my weer laat besef ek staan wraggies alleen

Alles omtrent gistermiddag het my laat besef dat jy somtyds jou speelgoed uit die cot moet gooi – al is dit oor ‘n beginsels saak vir R100

P S : Daardie koekies is waarlik ‘n smaaksensasie wat jy nie kan verwoord nie en een is genoeg om jou in ‘n suikerkoma te sit, maar van my hart na wie se hart dit ook mag nodig hê – maak dit en eet dit terwyl jy ‘n beker tee drink en gesels met iemand wat omgee.  In my geval – my kosbare Engelkind wat kreun-kreun en ‘die heupe se hol Mamma’ daardie opregtheid met my gedeel het.

P S S : As iemand jou sms of bel – hê die ordentlikheid om later te reageer as jy nie op daardie oomblik by jou foon was nie.  Niks sny dieper as om iemand te ignoreer nie.  Geen woorde kan verduidelik hoekom jy kies om beide net te ignoreer en maak of dit nie gebeur het nie.

P S S S :  My slowcooker is vol groenbone-bredie op hierdie ysige winterdag en my mond glimlag breed vir al my seëninge

P S S S S : Skryf is ‘n beter terapeut as wat mens besef 😉