
Die naweek het ek bietjie klas geloop. Meer geleer oor veilige ruimtes, vertroue en hoe om iemand deel te maak van ‘n storie. Nie ‘n buitestaander nie, maar eerder ‘n deelnemer.
Ek kan die ironie daarin sien dat juis ek genooi is, maar teen my beterwete het ek aangemeld.
Saterdag sluit ons af en ek is moeg. Daardie binne moeg want die man het krake oopgedruk wat ek nie wil oop hê nie en die spieël regop voor my neergesit. Wat weerkaats jou spieël?
Ek gaan groet vir A wat my genooi het. Ons stap al ‘n tydjie ‘n pad wat healing en spiritual welfare betref en hy het die gawe (ghmpf) om deur hierdie Vlooikind se muur te sien. Hy weet hoe diep die hele proses my geraak het en druk my arm net – alte goed weet hy hoe ek oor my spasie voel – en sê : you made me proud.
Daar wil ek in trane uitbars want met daardie klein gebaar het hy soveel gesê. P staan nader en voor ek click wat aangaan gee hy vir my ‘n drukkie en sê : ek wil net vir jou dankie sê dat jy my vertrou het in die hele proses.
Somtyds is dit vreemde buitemense wat jou soos ‘n iemand êrens laat voel
Somtyds is dit die mense wat naaste aan jou hart is wat die blindste en doofste is
Somtyds moet jy die veiligheid van ‘n spasie vertrou al wil alles in jou teenkanting maak
Somtyds is dit nodig om waarlik te luister en te sien wat die spieël weerkaats