Respek

lance

Ek is glad vir sport aanmekaar gesit nie. Dit is ver bo hierdie mens se vuurmaakplek. Die konsep agter sport is deel van my redenasie vermoë, maar ek kyk eerder hoe die gras groei voor ek ‘n sportgeleentheid moet kyk. Min dinge is vir my erger as om so lank stil te sit en net een iets te doen. Duskant onmoontlik vir hierdie Vlooikind.

Ek lees egter nuus en weet so partykeer wat waar aangaan. Een daarvan is Lance Armstrong. Ek ken die man nie. Weet hy ry fiets, weet hy het klomp geelhempies gewen en het ‘n kleinhuisie vol mense motiveer om teen kanker te fight en te wen. Toe die media storm oor sy kop bars wou ek vra : Nou wat van die goeie goed wat die man gedoen het? Is daardie nou ook van nul en gener waarde?

Ek het maar stil gebly en so by myselwers vir hom sterkte gesê vir die storm wat sy skip herwaarts en derwaarts gooi. Vir elkeen wat hom kruisig en nie eens ken nie wou ek vra : Hey jy met die hoop klippe, weet jy wat wat sy gunsteling kleur is?  Wat doen hy voor hy gaan slaap? Weet jy hoeveel ure hy op sy knieë deurbring al dan nie? Ken jy hom of lees jy ook maar soos ek ander se woorde oor hom?

Net soos met Hansie se sogenaamde skandaal wil ek vandag sê : Respek Mnr Armstrong. Dit neem ‘n moerske grootman om jou foute hardop te erken en te sê ek was verkeerd. Om op te staan en te sê : ek kan nie regmaak wat ek verkeerd gedoen het nie, maar ek gaan dit nie verder doen nie. Die res wat nog so sit by hulle kliphoop en donker geheime (wat hulle nie eens vir hulself wil erken nie), moet maar gooi – jy is van vandag af groter as hulle.

Vrede vir jou Lance