Rou Suiwer Talent !!
https://soundcloud.com/chrischameleon/landpsalm
Kliphard dat die kranse weergalm is hoe jy hierdie luister.
Rou Suiwer Talent !!
https://soundcloud.com/chrischameleon/landpsalm
Kliphard dat die kranse weergalm is hoe jy hierdie luister.
Laatnag roep die nag stilte my na buite. Arms gevou om myself staan ek op die stoep en drink die bekende donker stilte om my in. My oë trek lyne tussen die silhouette terwyl ek honger luister na die sagte fluister storie van die wind.
Hoeveel nagte het ek al so op die stoep deurgebring?
Soel somernagte met die kriek-liedere het plek gemaak vir die strak stilte van kamma-dood winter. Die bome se amper kaal takke strek uit na die hemel. Smekend. Gestroop van alles wat dui op lewe. Herfsblare dartel nog plek plek speels in die wind. Lê vuil en vertrap in die stegies en wag om weggespoel te word. Nog ‘n seisoen afgemerk. Afgehandel om nooit weer aan my deur te klop nie.
Die see en sy meeue roep my. My wese smag na die koue misreën wat om my val as ek sit op my rots terwyl branders dreun slaan om my. Tog weier my voete steeds om te gaan. Eenkeer. Dit is hoeveelkeer ek hierdie jaar by my geliefde see was. Slegs een enkele keer. Ek wat die see in my are het. Ek wat dans saam met die meeue op die strand. Ek wat laggend kaalvoet in die vlak branders hardloop. Ek wat tone gekrul in die sand sit en myself verloor in woorde terwyl die soutwind in my hare speel. My geliefde see met sy duisend stories – as jy bereid is om te luister.
Ek wil nog nie opgewonde word nie – tog wil ek so graag met alles in my glo – dat ek wel oor ‘n week of wat my troue karretjie se neus kan draai Kalahari toe. Na my mense toe. Na aande om die vuur met mense wat my op hulle manier probeer verstaan en aanvaar. Die rou omgee liefde van die rooi Kalahari sand is dalk net wat ek nodig het om weer te kan sit langs my geliefde see.
Gistermiddag het die besef net weer kom sit in my dat as jy ‘n vrou is en jy is enkellopend en iets meganies breek sal en gaan jy vir ‘n gat gevat word. Die enigste manier wat iemand maak of hulle luister is as jy jou stem met so 98grade laat verkil, hulle reguit in die oë kyk en sê : Daar is jou geld. Ek en jy weet albei ek word vir ‘n gat gevat, maar oor ek nie beskik oor genoegsame tegniese kennis of iemand het wat namens my kan praat nie is hierdie op jou – nie my nie.
Met ‘n moermeter wat deur die rooi breek is ek terug na my woonstel en daar breek die damwal in al sy glorie. Weke en weke se teleurstelling en ontnugtering en seer en sommer alles wat ek nie kan verwoord nie bars en ek sak dood eenvoudig voor my yskas op die teëls neer en huil.
Ek huil kliphard sonder skaamte. Sonder om vir myself te sê ”maar jy is mos sterk’, sonder om trane af te vee en skouers terug te trek, sonder omgee huil ek. My neus vee ek sommer so met die agterkant van my bebalde vuis af en die trane loop sonder omgee oor my wange tot in my nek. Ek het hard en sonder terughou uit my stukkende binneste gehuil oor alles net te veel was vir my op daardie oomblik. Ek het rousnikke deur my laat breek tot die laaste brander en ek leegstil met my kop op my knieë bly sit het.
Daar het ek gesit tot ek gevoel het ek kan die lewe weer in die oë kyk. Na die uitbarsting het ‘n bedonnergeid plek ingeneem langs die leegstilte. Met my skouers terug het ek vir Engelkind gelaai en gesê : “Sowaar as wragtag maak ons daardie onheilige soet koekies vanaand!” Die hand wat stil om myne gevou het en gesê het : “Dit sal oraait wees Mamma” het my amper weer op die teëls gehad, maar die omgee wat ek in daardie kosbare kind van my se oë gesien het. Niks op hierdie aarde kan daarby kers vashou nie.
Terwyl ‘n storm in die vorm van reën, wind wat die bome laat ombuig, donderweer, blits en liters en liters reën uit die hemele buite woed, staan ek en Engelkind en bou daardie onheilige soetkoekies. Ons gesels omgee-stories terwyl ons bak en die warm soetreuk van liefde deur ons woonstel trek. ‘n Kalm stilte het kom lê in my terwyl die natuur buite alles met alle geweld probeer afbreek.
Die volgende woorde het gevorm in my hart terwyl ek daar staan: Is dit nie maar hoe jou storm ook ‘n tydjie terug was nie? Wou jy nie ook alles afbreek nie? Het jy nie ook gevou onder die aanslag nie?
My binneste is regtig rou vandag, maar ek besef hoe nodig dit was dat daardie dam so sonder enige vorm van grasie of vrouwees gebreek het. Ek is steeds beneuk oor die persoon wat ek genader het vir hulp weer geskitter het in sy afwesigheid. Dit gaan waarlik my verstand te bowe hoekom jy nie enige vorm van erkenning kan gee aan iemand wat uitreik na jou nie. My tegniese kennis is steeds duskant niks en dit vryf my onnodig verkeerd op dat mense jou uitbuit oor jou gebrekkige kennis daaroor. Dit grief my dat ek soos ‘n opperste heks moes staan en ‘n verbale oorlog moes voer oor beginsel. ‘n Honderd rand gaan my nou wraggies op hierdie tydstip nie armer los as wat ek is aan geldwaarde nie.
Alles omtrent gistermiddag het saamgewerk om ‘n onnodige hoë muur moer toe te breek.
Alles omtrent gistermiddag het my geleer dat dade soveel harder gil as wat woorde ooit kan doen.
Alles omtrent gistermiddag het my laat stil word voor my Abba Vader
Alles omtrent gistermiddag het gemaak dat ek my langlyf kind teen my vou en dankie sê vir haar verdraagsaamheid, liefde, omgee, daarwees, lag, gesels – ag alles wat sy is
Alles omtrent gistermiddag het my weer laat besef ek staan wraggies alleen
Alles omtrent gistermiddag het my laat besef dat jy somtyds jou speelgoed uit die cot moet gooi – al is dit oor ‘n beginsels saak vir R100
P S : Daardie koekies is waarlik ‘n smaaksensasie wat jy nie kan verwoord nie en een is genoeg om jou in ‘n suikerkoma te sit, maar van my hart na wie se hart dit ook mag nodig hê – maak dit en eet dit terwyl jy ‘n beker tee drink en gesels met iemand wat omgee. In my geval – my kosbare Engelkind wat kreun-kreun en ‘die heupe se hol Mamma’ daardie opregtheid met my gedeel het.
P S S : As iemand jou sms of bel – hê die ordentlikheid om later te reageer as jy nie op daardie oomblik by jou foon was nie. Niks sny dieper as om iemand te ignoreer nie. Geen woorde kan verduidelik hoekom jy kies om beide net te ignoreer en maak of dit nie gebeur het nie.
P S S S : My slowcooker is vol groenbone-bredie op hierdie ysige winterdag en my mond glimlag breed vir al my seëninge
P S S S S : Skryf is ‘n beter terapeut as wat mens besef 😉