Dit storm in my vanaand. Alles wat ek kon doen om besig te bly is nou klaar.
Die wasgoed is opgevou, die skulplampie is klaar, die linte is reg vir die volgende projek, mamma kat en haar kinders se huis is geverf, uitgevee maar te lui vir mop, weggepak en skoongevee, opgestaan en weer gaan lê, maar stil wil dit net nie word in my vanaand nie.
Verlede jaar word my Engelkind geseën met ‘n scooter. Ek noem haar Doortjie. Engelkind wil ‘n kluitjie lê as ek doen, maar kom ook nie met ‘n ander naam te voorskyn nie. Spierwitte met rooi harte. Sy is mos my Engelhartskind. Hoe dan nou anders?
Daar lê die knoop. Ek moet nog ‘n lint losmaak wat my bind aan haar. Nog ietsie wat ek alleen vir haar moet leer. Alleen staan en kyk hoe sy grootkind versigtig die straat af ry vir die eerste proeflopie skool toe.
Ek praat met ‘n vriendin wat ook alleen moet staan en kyk hoe haar kinders mylpale bereik. Sy verstaan daardie hartseer trots dat jy hierdie ook gedoen het. So op jou eie. Sonder dat jy wou.
Die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee is om haar uit die nes te skop dat sy kan vlieg. Alleen. Al is dit ook hoe vrek moeilik vir jou. Volgende jaar moet ek haar die grootmens lewe instuur. Daar is nog net bietjie tyd vir haar vlerke om sterker te word en vir my hart om rustiger te word.
Vandag sit ek in my Blessing Jar dat ek sterk genoeg is om my kind alleen die lewe in te stuur.

