Ek traak bôggerol

Gistermiddag het die besef net weer kom sit in my dat as jy ‘n vrou is en jy is enkellopend en iets meganies breek sal en gaan jy vir ‘n gat gevat word.  Die enigste manier wat iemand maak of hulle luister is as jy jou stem met so 98grade laat verkil, hulle reguit in die oë kyk en sê : Daar is jou geld. Ek en jy weet albei ek word vir ‘n gat gevat, maar oor ek nie beskik oor genoegsame tegniese kennis of iemand het wat namens my kan praat nie is hierdie op jou – nie my nie.

Met ‘n moermeter wat deur die rooi breek is ek terug na my woonstel en daar breek die damwal in al sy glorie.  Weke en weke se teleurstelling en ontnugtering en seer en sommer alles wat ek nie kan verwoord nie bars en ek sak dood eenvoudig voor my yskas op die teëls neer en huil.

Ek huil kliphard sonder skaamte.   Sonder om vir myself te sê ”maar jy is mos sterk’, sonder om trane af te vee en skouers terug te trek, sonder omgee huil ek.  My neus vee ek sommer so met die agterkant van my bebalde vuis af en die trane loop sonder omgee oor my wange tot in my nek.  Ek het hard en sonder terughou uit my stukkende binneste gehuil oor alles net te veel was vir my op daardie oomblik.  Ek het rousnikke deur my laat breek tot die laaste brander en ek leegstil met my kop op my knieë bly sit het.

Daar het ek gesit tot ek gevoel het ek kan die lewe weer in die oë kyk.  Na die uitbarsting het ‘n bedonnergeid plek ingeneem langs die leegstilte.   Met my skouers terug het ek vir Engelkind gelaai en gesê : “Sowaar as wragtag maak ons daardie onheilige soet koekies vanaand!”  Die hand wat stil om myne gevou het en gesê het : “Dit sal oraait wees Mamma” het my amper weer op die teëls gehad, maar die omgee wat ek in daardie kosbare kind van my se oë gesien het.  Niks op hierdie aarde kan daarby kers vashou nie.

Terwyl ‘n storm in die vorm van reën, wind wat die bome laat ombuig, donderweer, blits en liters en liters reën uit die hemele buite woed, staan ek en Engelkind en bou daardie onheilige soetkoekies.  Ons gesels omgee-stories terwyl ons bak en die warm soetreuk van liefde deur ons woonstel trek.   ‘n Kalm stilte het kom lê in my terwyl die natuur buite alles met alle geweld probeer afbreek.

Die volgende woorde het gevorm in my hart terwyl ek daar staan: Is dit nie maar hoe jou storm ook ‘n tydjie terug was nie? Wou jy nie ook alles afbreek nie?  Het jy nie ook gevou onder die aanslag nie?

My binneste is regtig rou vandag, maar ek besef hoe nodig dit was dat daardie dam so sonder enige vorm van grasie of vrouwees gebreek het.  Ek is steeds beneuk oor die persoon wat ek genader het vir hulp weer geskitter het in sy afwesigheid.  Dit gaan waarlik my verstand te bowe hoekom jy nie enige vorm van erkenning kan gee aan iemand wat uitreik na jou nie.  My tegniese kennis is steeds duskant niks en dit vryf my onnodig verkeerd op dat mense jou uitbuit oor jou gebrekkige kennis daaroor.  Dit grief my dat ek soos ‘n opperste heks moes staan en ‘n verbale oorlog moes voer oor beginsel.  ‘n Honderd rand gaan my nou wraggies op hierdie tydstip nie armer los as wat ek is aan geldwaarde nie.

Alles omtrent gistermiddag het saamgewerk om ‘n onnodige hoë muur moer toe te breek.

Alles omtrent gistermiddag het my geleer dat dade soveel harder gil as wat woorde ooit kan doen.

Alles omtrent gistermiddag het my laat stil word voor my Abba Vader

Alles omtrent gistermiddag het gemaak dat ek my langlyf kind teen my vou en dankie sê vir haar verdraagsaamheid, liefde, omgee, daarwees, lag, gesels – ag alles wat sy is

Alles omtrent gistermiddag het my weer laat besef ek staan wraggies alleen

Alles omtrent gistermiddag het my laat besef dat jy somtyds jou speelgoed uit die cot moet gooi – al is dit oor ‘n beginsels saak vir R100

P S : Daardie koekies is waarlik ‘n smaaksensasie wat jy nie kan verwoord nie en een is genoeg om jou in ‘n suikerkoma te sit, maar van my hart na wie se hart dit ook mag nodig hê – maak dit en eet dit terwyl jy ‘n beker tee drink en gesels met iemand wat omgee.  In my geval – my kosbare Engelkind wat kreun-kreun en ‘die heupe se hol Mamma’ daardie opregtheid met my gedeel het.

P S S : As iemand jou sms of bel – hê die ordentlikheid om later te reageer as jy nie op daardie oomblik by jou foon was nie.  Niks sny dieper as om iemand te ignoreer nie.  Geen woorde kan verduidelik hoekom jy kies om beide net te ignoreer en maak of dit nie gebeur het nie.

P S S S :  My slowcooker is vol groenbone-bredie op hierdie ysige winterdag en my mond glimlag breed vir al my seëninge

P S S S S : Skryf is ‘n beter terapeut as wat mens besef 😉

Vreemd Bekend

desert2

” With great pain comes great change

If you’re not ready to change, then you’re not in enough pain “

Daardie woorde is al so deel van my soos botter wat in varsgebakte brood intrek.  As jy elke dag presies dieselfde doen, dink en optree is daar geen manier wat ‘n situasie, denkwyse of jou omstandighede gaan verander nie.  Dit is wraggies so eenvoudig soos dit.  ‘n Mens kan legio argumente voer en redenasies tot in der ewigheid hou, maar dat jy moet verander as jy ‘n verandering wil sien gaan bly staan soos ‘n paal bo water.

Maklik is dit nie.  Skielik moet jy ruggraat groei waar jou wensbeen was.  Eers as jy kan staan voor die spieël en hardop vir jouself die reine volle waarheid kan sê (niemand hoef te hoor nie) eers dan is jy reg om elke dag ‘n miniatuur skuifel tree’tjie te gee in die rigting van verandering.

As iets breek kan ‘n mens dit net soveel keer regmaak voor die besef kom sit in jou dat dit weggegooi moet word.  Om jou hand oop te maak en te sê : ‘ek het regtig met my alles probeer, maar dit was nie genoeg nie’ – dit breek jou in jou diepste menswees.  Daardie teleurstelling kom sit soos ‘n bittervink op jou skouer en sypel koud deur jou menswees.

Ek het nog ‘n lang pad wat ek moet stap, maar ek kan weer gaan sit by my see en my tone in die sand krul en glimlag met my gesig na die son.  Net doodeenvoudig sit en die opregtheid van die see en die wind om en in my voel en net wees.  Ek besit nie woorde om te beskryf hoe oneindig moeilik dit vir my was om net dit weer te kon doen nie.  But I did it.

Vlooi word weer mens. Stukkie vir stukkie.  Bietjie vir bietjie.  Verandering op verandering.

I’m not heartless – I’ve just learned to use my heart less

Soveel Meer

Vir solank as jy ‘n klavier sien as net ‘n klavier, sal jy nie verstaan tot wat daardie klavier in staat is met die regte motivering en aanraking nie.

Hierdie woorde het vanoggend in my hart gevorm terwyl ek my geliefde berg sit en kyk.

Die video hieronder  het sy pad tot my gevind nie baie lank na die woorde gevorm het nie.

Ek mag my dalk midde ‘n ongelooflike woestyntyd vind, maar ek is nie blind vir die gentle reminders wat op my pad gesit word nie.

Ek wil by jou weet

bezweni

Laatnag vee ek oudergewoonte oor my Vlooi-ink en wonder of jy weet dat ek elke aand vir jou nagsê.  Dat ek vroegoggend weer met my duim oor my ink vee en vir jou ‘n sagte goeiemôre soen gee.

Jy het getwyfel.

Met berusting wat grens aan bitterheid draai ek die krale om my arm waarmee Vlooi daagliks toegemaak word.  Dit is vir my wat dit op my arm is. Vir niemand anders nie.

Jy het getwyfel.

My gedagtes skryf al dae lank vir jou in ‘n poging om s’n te maak uit die leegheid en amperse vreemdheid wat stil in my posgevat het.  Die oomblik as ek die woorde wil laat vorm op papier is dit weg.  As ek my oë toemaak sien ek wat ek voel, maar dit weier om woordvorm in te neem.

 Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of die prys wat jy betaal vir jou leuns waarlik dit werd is.  Ek wil voor jou staan en fluister in jou oor : onthou jy.  Ek wil my hand op jou hart sit en voel hoe dit klop.  Ek wil my kop in die holte van jou skouer sit en voel hoe jy my toevou in my arms.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om waar as agtig te glo net om te sien jou drome word een vir een weggepak vir ander mense se onthalwe.  Ek wil vir jou die seebottel gee en vra of jy weet – of regtig egtig egtig weet – hoeveel ek van myself vir jou oopgemaak het.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om dag vir dag te sit en wag vir ‘n krummeltjie omgee.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe diep dit sny as iemand ‘n deur in jou menswees toeklap.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om nie meer te kan huil nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om met jou hart in jou hande te staan voor iemand en te vra : asseblief net om ignoreer te word.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit proe as jy nie genoeg is nie.  Ek wil vir jou vra of jou siel al gevoel het wat minderwaardigheid is. Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om een iets te hoor en elke dag iets anders te sien.  Ek wil vir jou vra of jy verstaan hoekom ‘n mens dan nie meer glo nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil jou hand neem en dit op my hart sit en vra : as nie eens dit genoeg is om jou te laat glo in die opregtheid van my menswees nie, hoe kan ek dan ooit genoeg wees vir jou?