My Engelkind word die naweek gebless met ‘n groter tenk vir haar goudvissies wat ‘n Sondagaand met eindlose uitdagings tot gevolg het. Ek is waarlik nie ‘n groot vissie-mens nie dus weet ek net dat hulle moet kos kry en het water nodig om te oorleef. Engelkind is egter vreeslik erg oor haar Fantail Goldfish – dit is nie NET ‘n goudvissie nie mamma – en ouers ondersteun mos hulle kinders.
Ek weet dan nou ook hoe om ‘n hoekfilter aan mekaar te sit en suksesvol te vul met houtskool en daardie wolgoete. Ook dat jy die pypie nie net in enige gat kan druk en hoop vir die beste nie. Sondagaande is nie bevorderlik vir vis-herplanting nie en Google is regtig baie behulpsaam.
Nadat die hele petalje hom afgespeel het en alles en almal min of meer tot rus gekom het, sit ek op Engelkind se bed en betrag die vissies. Volgens oorlewering is dit terapeuties om te kyk hoe visse swem. Die stomme goedjies swem al in die een hoek en om die draai en terug in die hoek. Al in die rondte soos die intelligente wesens wat hulle is. Ek kyk en dink by myself dat as hierdie terapeuties is, is ek ‘n visvinger, maar ek kyk.
Terwyl ek terapie ontvang begin my oë die omtrek van hulle swem meet met die grootte van die vorige hok. Bingo. Hulle besef nie daar is ‘n hele nuwe wêreld vir hulle nie. Muscle-memory (as visse ooit so iets het) maak dat hulle nie buite die raamwerk van ‘dit is al wat ek het’ kan beweeg nie.
Dit gaan anyway nie anders wees nie – maak dat hulle nie eens kyk of hulle verder kan swem nie
Wat help dit ek probeer – maak dat hulle dan nou nie eens probeer nie , want hulle het klaar besluit dit sal nie werk nie
Ek weet mos dit is hoe dit is / gaan wees – maak dat ¾ van hulle nuwe groter beter wonderlike nuwe wêreld net daar lê
Jy verstaan nie – maak dat hulle blind is vir die feit dat hulle eintlik die stomme goedjies is wat nie verstaan nie
Ek is te bang – maak dat hulle steeds in hulle eie tronk rondswem
Dit wil vir my voorkom of Fantail Goldfish dalk meer as ‘net goudvissies’ kan wees.
Solank jou oë oop is sal jy leer
Solank jy bereid is om te waag sal nuwe wêrelde vir jou oopgaan
Solank jy te gemaklik is in jou zone, gaan en sal jy nooit weet wat jy eintlik kan hê nie
To the degree we’re not living our dreams, our comfort zone has more control of us than we have over ourselves.
Forseer jouself uit jou muscle-memory-zone. Al is dit hoe vrek moeilik. Jy het nie ‘n benul wat jy mis oor jy bang is nie.
Die bank vra jy? Daardie is my droombank en net Gog sal verstaan hoekom visse en bont-droombanke in my wêreld 100% s’n maak = )
