Alles Behalwe Rus

eie foto van die eie vlaktes waar ons gestaan het

eie foto van die eie vlaktes waar ons gestaan het

Sedert 5 Julie weet ek nie of ek moet lag of huil of net histeries die vlak moet in hardloop nie.   Verkieslik met hande wat waai en ‘n paar pienk haasore op my kop.  Vir die aan die hardloop gaan nou.

My rustyd het afgeskop met my getroue Gloria-karretjie wat met ons gaan staan het tussen niks en nêrens.  110km voor Upington se kant van die kaart om presies te wees.  Dit is die somtotaal van alle woorde wat ek kan vorm sonder om een van bogenoemde opsies uit te oefen. Ek kan wel vandag sê dat niemand maar NIEMAND stop as jy langs die pad staan nie, OUTsurance is wragtag so nice soos die advertensie sê hulle is en dat dit nie in my sit om nice te bly na 20ure op die pad nie.

Gloria is steeds in Upington.  Greyhound sien my nooit weer nie.  Ek sal veel eerder met grasie en hakskoene stap as om vrywillig verplig enige van hulle dienste te bestyg weer.  Dit is ook al wat ek geskryf kry oor die deel van die rustyd.

Hierdie week het my werksgewys tot duskant die horison gedruk, maar ek is met dankbaarheid gevul vir die werksbakkie wat my heen en terug vervoer – so ek vreet maar wat op my bord gesit word.

Ek is op my rims en nog ‘n dag verder.  Tog het ek vandag hard en onbekend gelag toe ‘n effense dof foutjie wat ek gemaak het aan my uitgewys is met ‘n droeë ‘Dory sal altyd deel bly van jou, maak nie saak in watter kantoor jy sit nie’.

Die naweek doen ek niks behalwe onder my kombersie sit en series kyk nie.  Dit is nou as ek nie met pienk haasore die pad vat nie.

Ek wil by jou weet

bezweni

Laatnag vee ek oudergewoonte oor my Vlooi-ink en wonder of jy weet dat ek elke aand vir jou nagsê.  Dat ek vroegoggend weer met my duim oor my ink vee en vir jou ‘n sagte goeiemôre soen gee.

Jy het getwyfel.

Met berusting wat grens aan bitterheid draai ek die krale om my arm waarmee Vlooi daagliks toegemaak word.  Dit is vir my wat dit op my arm is. Vir niemand anders nie.

Jy het getwyfel.

My gedagtes skryf al dae lank vir jou in ‘n poging om s’n te maak uit die leegheid en amperse vreemdheid wat stil in my posgevat het.  Die oomblik as ek die woorde wil laat vorm op papier is dit weg.  As ek my oë toemaak sien ek wat ek voel, maar dit weier om woordvorm in te neem.

 Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of die prys wat jy betaal vir jou leuns waarlik dit werd is.  Ek wil voor jou staan en fluister in jou oor : onthou jy.  Ek wil my hand op jou hart sit en voel hoe dit klop.  Ek wil my kop in die holte van jou skouer sit en voel hoe jy my toevou in my arms.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om waar as agtig te glo net om te sien jou drome word een vir een weggepak vir ander mense se onthalwe.  Ek wil vir jou die seebottel gee en vra of jy weet – of regtig egtig egtig weet – hoeveel ek van myself vir jou oopgemaak het.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om dag vir dag te sit en wag vir ‘n krummeltjie omgee.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe diep dit sny as iemand ‘n deur in jou menswees toeklap.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om nie meer te kan huil nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om met jou hart in jou hande te staan voor iemand en te vra : asseblief net om ignoreer te word.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit proe as jy nie genoeg is nie.  Ek wil vir jou vra of jou siel al gevoel het wat minderwaardigheid is. Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om een iets te hoor en elke dag iets anders te sien.  Ek wil vir jou vra of jy verstaan hoekom ‘n mens dan nie meer glo nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil jou hand neem en dit op my hart sit en vra : as nie eens dit genoeg is om jou te laat glo in die opregtheid van my menswees nie, hoe kan ek dan ooit genoeg wees vir jou?