Vergewe

Ek dra al vir maande wetend onwetend ‘n wrokkige bitterheid in my rond.  Vir al hierdie maande wou ek nie eens teenoor myself erken hoe diep daardie bittere wrok wortel geskied het nie.

My bitterheid het my weerhou van die enkele plek waar ek kan asemhaal met my gesig na die son.  Ek was so teleurgesteld kwaad bitter bedonnerd dat niks meer vir my s’n gemaak het nie.  Ek het myself bevraagteken.  Is ek dan regtig so niks dat ‘n enkele smekende versoek eenkant gegooi is?  Is my droom van ‘eendag sal ek jou self gaan wys’  uit selfsug eenkant gedruk?  Besef mense hoe diep ‘n aksie kan sny as dit teenstrydig is met woorde?

So het dit deur my gemaal en gerol en my leeg met honderde onbeantwoorde vrae gelos.  Met ‘n workkige bitterheid, want ek kon regtig nie verstaan nie.  Niks wat ek gedoen en gevra en baklei het is beantwoord nie.  Geen van my gille het terug gekom met ‘n beduidenis van ‘n eggo nie.  Net niks.  Hierdie moes ek self uitsny en wegbêre.  Vir myself.  Ek gaan nie antwoorde kry nie, want daar is nie antwoorde nie.  Daardie besef het in my kom sit.  Daar is nie ‘n antwoord op hierdie vrae nie.

Ek het vergewe en ek het laat gaan, want ek verdien die vrede.

Die Here weet hoe moeilik hierdie vir my is, maar ek verdien om iemand êrens te wees met my gesig na die son gedraai terwyl die wind vertroostend om my vou.