Pryslose Juweel

Ons het ongelooflike talentvolle kunstenaars wat van hare-regop-staan tot suiwer pienk-bubblegum-pop sing.  Iewers hoor iemand twee uiterstes, voeg dit saam en ‘n stil oomblik word gebore

Gebed van die Vreeslose

Voshaarnooi

‘n Groot gunsteling van my wat my vandag sommer in trane het.

Soms is dit net te leeg in jou om vol te bly

Die storie van Katykat

Katkykat na 'n week by my

Katykat na ‘n week by my

Verlede jaar is my hartskat oor my pad gestuur. Op ‘n dag wat my binneste op die grond langs my gelê het, het ek met my kop op die stuurwiel sit en huil en hardop gebid. Deel van my gebed was dat ek dit voor die Here se voete gelê het dat ek nie meer glo in die liefde nie. Met die agterkant van my hand het ek die trane afgevee, my skouers terug getrek en uit Gutsy-Gloria geklim.

Daar hoor ek dit toe. ‘n Hartverskeurende miau. Al soekende deur die parkering het ek geloop en geroep. Daar sit sy toe. Verwese en vuil onder die stukkende motor. Ek het later plat op my maag gelê soos ek haar uitlok. Geduld wat ek (blykbaar) nie het nie, het gewen en ek het haar gevang en geneem na my kantoor. My stukkende weggooi kat weet toe nie wat is ‘n mens nie, hoe om in ‘n sandbak te piepie nie, sy ken nie van drink uit ‘n piering nie, sy verorber wat ek vir haar gee om te eet en verstik in haar vraatsigheid.

Katykat is saam met my woonstel toe. Na daardie woonstel waar daar reeds ‘n stompgat grysheid woon. My hardegat eenkant Bacardi. Die een wat laatnag skelm langs my kom lê net om môre gemaak nonchalant vir my te ignoreer. Ons verstaan mekaar – ek en my eenkant katkind.  Bacardi het die verwese vuil dingetjie een kyk gegee en haar begin bad. Op daardie tydstip het ek ingegryp, want nugter weet wat alles op haar lyfie vasgesit het.

Na ‘n warm bad het sy effens meer gelyk soos ietsie wat jy later van kan hou. Sy was egter wild. Woes wild verskrik. Vertroue was so vreemde konsep soos kaas op Mars vir haar.  Sy hol dat jy net ‘n swartstrepie sien as jy te vinnig beweeg.  Ek span my eenkat kat in en hy moet haar roep.  Bacardi sal dan ewe gehoorsaam vir haar roep dat sy uitkom uit haar wegkruipplek.  Dit het tot gevolg dat hy helde status by haar bekom. Asof hy die ekstra kroon nodig het, maar hy was deel van haar genesing, so ek gun hom dit.

Ek lê ure langs die bed waaronder sy wegkruip en gesels met haar dat sy gewoond moet word aan my stem. Gewoond moet word  aan my reuk. Stadig leer sy dat ek nie seermaak nie. Ek troetel. Dit neem waarlik weke om haar te leer om die sandboks te gebruik, om nie weg te hardloop as ek nader kom nie, om nie aan die bewe te gaan as ek my hand uitsteek nie. Baie baie baie liefde, tyd en geduld (daar is dit weer) het uit my stukkende binneste na daardie klein lyfie se stukkende binneste gegaan voor sy haar klein opgekrul het op my bors.

So het ek en my Katykat nag vir nag aan die slaap geword.  Klein opgekrul in my nek met haar kop in my hand. Daardie swart lyfie is sagter as ‘n donsveer en blinker as goud van al die trane wat sy al gevang het.

Twee weke terug het my hartskat mammakat geword. Sy het vir my gewag voor sy haar baba’s gekry het. Ek het heeltyd by haar gesit en gesels en snot en trane gehuil terwyl haar drie kinders gebore is.

Sy en haar kinders woon in hulle huisie by my in die kamer. Daar is nie ‘n beter katmamma as my Katykat nie. Sy troetel haar kinders. Beskerm hulle. Sleep hulle dom op die mat rond as sy effens hormonaal voel. Weer lê ek en my hartskat en gesels in die nag. Ek sommer op die mat langs haar boks. Ek kyk haar met haar kinders en onthou my verwese vuil kat wat so stukkend was.

Sy vertrou steeds baie moeilik. My onderste bure kruip al maande vir ‘n stukkie aanvaarding van haar, maar sy gee hulle steeds net die oog voor sy weg hardloop. Sy het ‘n tydjie terug probeer om haar lyfie klein genoeg te krul in my nek, maar ons het ‘n ander manier gekry wat sy kan lê om veilig gekoester te voel.  Altyd sal sy my baba hartskat bly, al is sy nou ‘n mammakat.

Ek leer vanvoor af by my Katykat.   Elke liewe dag leer ek ietsie by daardie klein swartkatjie van my.  Beide van ons is verlore verwese stukkende weggooi kinders wat iewers langs die pad gekoester word en oneindig kosbaar is.  Al vertrou ons nie aldag nie.  Al trek ons terug as ‘n hand met die regte intensie na ons uitgesteek word.  Al hardloop ons somtyds dat jy net ‘n streep sien.  Iewers langs die pad ontspan ons genoeg in ‘n veilige hawe om klein op te krul met ons koppe in ‘n Hand wat veilig bewaar.

Geen mens sal my anders oortuig van die besef dat Abba Vader daardie kat vir my gestuur het nie. As Moses ‘n bos kon kry wat brand, kan ek ‘n hartskat kry en basta met almal wat wil verskil.

Katy met haar pasgebore katkinders

Katy met haar pasgebore katkinders