Troetelnaampies

Hier moet iemand vandag vir my help, want my kop is te plat daarvoor.

Endearments is wat die Engelse dit noem.  Afrikaans rol so lekker van jou tong af – troetelnaam.  Ons almal het ‘n ‘ander’ naam waarop ons reageer.  Vlooi is nogal nie ‘n naam wat ek sommer uit die lug gegryp het nie.  Iemand na aan my hart het my altyd so genoem tot ek hom verloor het deur sy keuses.  Ek sal egter altyd Vlooi bly.  Dit is selfs ‘n tattoo op my pols.  Dit is meer as net ‘n troetelnaam.  Dit is my elke dag herinnering dat ek op ‘n tyd iets werd was en paar ander goed wat ek nog nie kan vasvang in woorde nie.  Miskien is dit oor ek nie regtig wil nie?

Liefie, Duifie, Gog, Hartjie, Dingetjie – ag die lys is eindloos en ek kry partykeer ‘n binne glimlag as ek luister na die name wat mense ‘heg’ aan hulle geliefdes.  My stomme Engelkind se ruggraat trek eintlik reguit as ek haar op haar naam en van roep, want dan weet sy die level van moeilikheid waarin sy is, is erg.  Wat my verstand te bowe gaan is hoe ‘n man en ‘n vrou mekaar pappa en mamma kan noem en dan – hou swak hart – die dag wat daar kleinkinders arriveer word hulle ‘opgradeer’ na oupa en ouma.

Allemagtag mense, van alles wat jy iemand na jou aan hart kan noem, noem jy die een met wie jy jou bed deel pappa of ouma?! Dit kan nie net ek wees wat dink Freud sal ‘n field day hê met die nuance daaragter nie.  Verloor jy jou identiteit so in ‘n huwelik dat jy slegs as mamma of pappa kan funksioneer en dan skuif daardie rol oor na die kleinkind en sodoende vorm jy jou nuwe identiteit as grootouer?  Honestly I don’t get it.

‘n Tydjie terug kuier ek by my vriendin en ek tel die pappa en mamma op wat hulle mekaar noem en hou my in tot die kinders gaan slaap en vra haar prontuit – hoekom noem jy jou man Pappa?  Regtig? Pappa? Daar bars sy uit van die lag en sê, weet jy – ek kom dit nie eens agter nie, want ek sê heeltyd vir die kinders van pappa dit en pappa dat.  Sy let nou nog daarop om haar man iets anders as pappa te noem.  Die prentjie wat ek haar geskets het sal ewig in haar bly.  Daarvoor het ek gesorg.

Wanneer ons chaos-familie laer trek is daar meer as een ma en meer as een ouma.  Om verwarring te voorkom roep ons dan Ouma Mellie of Ouma Bets, maar as te nimmer spreek ek my ma as ouma aan nie.  Sy is mos my ma – nie my ouma nie.  My ouma is ouma en my ma is ma en as dit die Here se wil is (en ek ooit weer iemand genoeg sal vertrou) dat ek ‘n man het in my lewe groei ek eerder rughare wat op die grondsleep as wat ek hom pappa of oupa noem.

Jou man is jou man.  Nie jou pappa nie.  Dit is die persoon met wie jy jou bed en jou hart deel (as jy gelukkig is).  Hoe noem jy iemand pappa of oupa as jy langs hom in die kooi lê?  Al relatiewe sinvolle rede wat ek aan kan dink is dat nie een van die twee meer ‘n identeit buite die rol van pappa of mamma het nie en dit is net ongelooflik hartseer.  Ek dink dan word die hele punt en doel van ‘n huwelik gemis as alles wentel om die kinders en kleinkinders.  As die toegang tot jou kinders en kleinkinders die rede is hoekom jy jou vrou as mamma aanspreek, is ek waarlik dankbaar ek is alleenlopend.  Kan dit wees dat jy die persoon nie as enige iets ander sien as die pa van jou kinders en die oupa van jou kleinkinders nie?  Dit is nog meer hartseer.

Nick Vujicic sê (onder andere) : If you think being single is lonely, try being married to the wrong person.

Somtyds moet jy hoor wat jy sê

Somtyds moet jy luister hoe dit vir ander klink

Somtyds moet jy vir jouself vra hoekom jy dink jy ongelukkig is

Somtyds is die grootste geskenk wat jy jouself kan gee om gemaklik te wees in jou eie identiteit

Vreemd Bekend

desert2

” With great pain comes great change

If you’re not ready to change, then you’re not in enough pain “

Daardie woorde is al so deel van my soos botter wat in varsgebakte brood intrek.  As jy elke dag presies dieselfde doen, dink en optree is daar geen manier wat ‘n situasie, denkwyse of jou omstandighede gaan verander nie.  Dit is wraggies so eenvoudig soos dit.  ‘n Mens kan legio argumente voer en redenasies tot in der ewigheid hou, maar dat jy moet verander as jy ‘n verandering wil sien gaan bly staan soos ‘n paal bo water.

Maklik is dit nie.  Skielik moet jy ruggraat groei waar jou wensbeen was.  Eers as jy kan staan voor die spieël en hardop vir jouself die reine volle waarheid kan sê (niemand hoef te hoor nie) eers dan is jy reg om elke dag ‘n miniatuur skuifel tree’tjie te gee in die rigting van verandering.

As iets breek kan ‘n mens dit net soveel keer regmaak voor die besef kom sit in jou dat dit weggegooi moet word.  Om jou hand oop te maak en te sê : ‘ek het regtig met my alles probeer, maar dit was nie genoeg nie’ – dit breek jou in jou diepste menswees.  Daardie teleurstelling kom sit soos ‘n bittervink op jou skouer en sypel koud deur jou menswees.

Ek het nog ‘n lang pad wat ek moet stap, maar ek kan weer gaan sit by my see en my tone in die sand krul en glimlag met my gesig na die son.  Net doodeenvoudig sit en die opregtheid van die see en die wind om en in my voel en net wees.  Ek besit nie woorde om te beskryf hoe oneindig moeilik dit vir my was om net dit weer te kon doen nie.  But I did it.

Vlooi word weer mens. Stukkie vir stukkie.  Bietjie vir bietjie.  Verandering op verandering.

I’m not heartless – I’ve just learned to use my heart less

Ek wil by jou weet

bezweni

Laatnag vee ek oudergewoonte oor my Vlooi-ink en wonder of jy weet dat ek elke aand vir jou nagsê.  Dat ek vroegoggend weer met my duim oor my ink vee en vir jou ‘n sagte goeiemôre soen gee.

Jy het getwyfel.

Met berusting wat grens aan bitterheid draai ek die krale om my arm waarmee Vlooi daagliks toegemaak word.  Dit is vir my wat dit op my arm is. Vir niemand anders nie.

Jy het getwyfel.

My gedagtes skryf al dae lank vir jou in ‘n poging om s’n te maak uit die leegheid en amperse vreemdheid wat stil in my posgevat het.  Die oomblik as ek die woorde wil laat vorm op papier is dit weg.  As ek my oë toemaak sien ek wat ek voel, maar dit weier om woordvorm in te neem.

 Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of die prys wat jy betaal vir jou leuns waarlik dit werd is.  Ek wil voor jou staan en fluister in jou oor : onthou jy.  Ek wil my hand op jou hart sit en voel hoe dit klop.  Ek wil my kop in die holte van jou skouer sit en voel hoe jy my toevou in my arms.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om waar as agtig te glo net om te sien jou drome word een vir een weggepak vir ander mense se onthalwe.  Ek wil vir jou die seebottel gee en vra of jy weet – of regtig egtig egtig weet – hoeveel ek van myself vir jou oopgemaak het.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om dag vir dag te sit en wag vir ‘n krummeltjie omgee.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe diep dit sny as iemand ‘n deur in jou menswees toeklap.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om nie meer te kan huil nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om met jou hart in jou hande te staan voor iemand en te vra : asseblief net om ignoreer te word.  Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit proe as jy nie genoeg is nie.  Ek wil vir jou vra of jou siel al gevoel het wat minderwaardigheid is. Ek wil vir jou vra of jy weet hoe dit voel om een iets te hoor en elke dag iets anders te sien.  Ek wil vir jou vra of jy verstaan hoekom ‘n mens dan nie meer glo nie.

Jy het getwyfel.

Ek wil jou hand neem en dit op my hart sit en vra : as nie eens dit genoeg is om jou te laat glo in die opregtheid van my menswees nie, hoe kan ek dan ooit genoeg wees vir jou?