God het ‘n besonderse manier om ons toe te laat om op die regte tyd op die regte plek te wees.
Ek het een aand in ‘n swak verligte straatjie gestap toe ek die gedempte gille hoor vanuit ‘n digte klompie bosse langs die sypaadjie. Ek het stadiger gestap om seker te maak ek hoor reg en amper paniekerig begin raak toe ek besef dat ek heeltemal reg hoor. Dit was die onmiskenbare geluide van ‘n gestoei : swaar asemhaling, verwoede geworstel en materiaal wat skeur. Slegs meters van waar ek staan word ‘n vrou aangerand.
Moet ek betrokke raak? Ek was bevrees vir my eie veiligheid en het myself verwens omdat ek skielik besluit het om met die nuwe roete huistoe te loop vanaand. Wat as ek net nog ‘n statistiek word? Moet ek nie eerder na die naaste telefoon toe hardloop en die polisie bel nie?
Alhoewel dit soos ‘n ewigheid gevoel het, het die gedagtes wat so deur my kop maal slegs ‘n paar sekondes geneem, maar alreeds het die vrou se uitroepe al meer desperaat begin word. Ek het geweet dat ek vinnig sal moet optree. Hoe kan ek wegloop van dit wat hier besig is om te gebeur? Nee, het ek finaal besluit, ek kan nie my rug keer op die noodroep van die onbekende vrou nie, al beteken dit dat ek my eie lewe moet waag.
Ek is nie ‘n brawe man nie, nog minder atleties of sterk gebou. Ek weet nie waar ek die innerlike krag en fisiese sterkte vandaan gekry het nie – maar toe ek besluit om die vrou te hulp te snel het ek gevoel of ek op ‘n vreemde wyse verander word. Ek het agter die bosse ingehardloop en die aanvaller van die vrou af weggegryp. Al stoeiende het ons op die grond beland en na ‘n paar minute se onderlinge gekarnuffel het die aanvaller op die vlug geslaan.
Uitasem, het ek vinnig orent gekom en na die vrou geloop, wat gebukkend agter die boom geskuil het terwyl sy huil. In die donkerte kon ek skaars die buitelyne van haar figuur uitmaak, maak ek kon beslis haar bewende skok aanvoel. Om haar nie verder te verskrik nie het ek op ‘n afstand met haar gepraat.
“Dis OK,” sê ek kalmerend. “Die man het weggehardloop. Jy is nou veilig.” Daar was ‘n lang stilte en toe hoor ek die woorde, geuiter in ongeloof en verwondering.
“Pappa, is dit jy?” en vanuit die bosse stap my jongste dogter, Katherine.
(Skrywer Onbekend)
Ons vra te graag – Waar was God?
Ons wil te maklik die blaam skuif
Ons wil te graag ons misnoë om die vuur uiter
Solank ons net nie betrokke hoef te raak nie
Somtyds wil ons vir God tot verantwoording roep en Hom vra waarom laat Hy dinge soos verkragting, aanranding, mishandeling, armoede, ongeregtighede, seerkry, pyn en so baie ander ellendes toe om te gebeur in die wêreld … maar kan Hy nie presies dieselfde vir die mensdom vra nie?
