Faith It

faith it

Die proverbial pawpaw het die fên in passionpink geslaan in my lewe.

Die skade waarde (bestaan daar ooit so woord of konsep?) van Gloria het vandag sy pad gevind tot by my.

Ek en Engelkind benodig ‘n middelman wat vrederegter kan speel.  Twee vrouens so op hul eie is nie altyd goed nie.  Veral nie as een hap aan 18 se gat nie.

‘n Persoonlike aanval is geloods op my vermoë om my werk te doen.  Meer as eenkeer het ek al die sandput gaan soek wat ingebring is toe ek nie opgelet het nie.

Ek en my geliefde see is steeds bedonnerd vir mekaar – dus is oor en weer kuier nie op die tafel nie.

My kop neurie konstant “You are my sunshine – My only sunshine” – ek vermoed haasore gaan nie eens meer help nie.

Ek het Luke 1 : 37 and I’m faithing it, want self het ek geen oplossing of antwoord of plan of benul hoe ek my kop kan oplig terwyl ek glimlag en my skouers terug trek nie.

Eers as ek ophou om my blessings te sien en eers as ek ophou om dankie te sê sal ek bekommerd word – tot dan sug ek diep en faith ek dit.

Somtyds wens ek kak en drama kan een een aanmeld vir diens.

Somtyds wens ek dat ek die foon nou kon optel en my Dad se stem hoor wat sê ‘Is oraait Ousus, ons vat dit tree vir tree’

Wees

qualities

Ek het genoeg letters uitgewis vandag om die volgende jaar se inskrywings te vul.  Niks tart jou meer as woorde wat oorvol in jou lê terwyl die cursor net flikker op die leë wit blad.

Vir die eerste in maande het ek die rugstring gehad om swart op wit te sit hoe ek ‘n situasie gesien het.  Uitgesit hoe dit in my gevoel het.  In so min as moontlik woorde probeer vra : wat as daardie skoen aan jou voet gesit is?  Alles opgeskraap en bymekaar geskraap vir niks.  Vir ‘n stupid sekonde lank het ek gedink dat ek na maande se wroeg in my gaan closure kry.  Dat ek gaan verstaan.   Die witlint om die swart boksie knoop en dit wegpak as die letsel vir altyd op my pols.

Ek is woorde kind wat dinge bevraagteken en uitmekaar trek tot ek s’n kan maak daarvan.  Tot die vrede in my binneste kom lê soos koel water op ‘n snikhete dag.  Ek rafel en krap en karring tot op die been.  Tot my eie spyt en teleurstelling.  Elkeen van ons probeer op ons eie manier dinge verwerk.  Ongelukkig vir my pak ek my boksies vol woorde.  Woorde wat ek nooit gaan hoor nie.  Verduidelikings wat my nie beskore is nie.  ‘n Verstaan wat nooit deel van my daaglikse asem gaan wees nie.

Ek het geleer dat my seer en teleurstelling en vernedering nie ‘n verduideliking gaan kry nie, want daar is slegs verskonings – geen redes nie.

Ek het geleer dat al vra jy hoe mooi en al sit jy jou alles op die tafel, dit geen waarborg is dat iemand dit sal koester en respekteer nie.

Ek het die besluit geneem dat vriendskap meer werd is as verstaan.

Gymkepades

gymkepadesGisteraand sit ek salig en mediteer op my eie in die sauna. Temperatuur net so duskant die hel met die effense mintreuk om die sinusse lekker oop te maak. Salig. Oë toe, kop teen die muur met my watertjie vir lafenis sit ek net en voel.

Dit is ‘n luukse wat ek myself vergun. ‘n Hele 20minute wat ek net niks doen nie. Niks praat nie. Niks luister nie. Net sit en niks. Partykeer sit en praat ek met my Abba. Bespreek openhartig my vrese en bekommernisse so in die stilte. Anderkere pak ek al die los gedagtes wat rond zoem in my kop weg. Elke keer leer ek iets van myself. Elke keer rus ek tot in my menswees. Elke keer wens ek myself geluk dat ek 20minute lank net niks gedoen het nie. Vir niks en niemand behalwe myself nie.

Terwyl ek in my euforiese swetende warm hel sit gaan die deur oop. Ek loer net so met die een oog en ignoreer die steuring. Asem salig in en uit met ‘n vreedsame kalmte wat ek nie kan verwoord nie.

Volgende oomblik omgeef ‘n wolk hitte my dat ek eintlik regop sit en snak na asem. Oë wat oopruk kyk en effens beneuk na die seun wat in geklok het met ‘n vraagteken duidelik op my gesig. Sal die toe gemaak onskuldig met opgetrekte skouers en waterbeker nog in die hand vir my sê : Dit is goed vir die toxins. Ek het amper my hand getoxin agter sy kop, maar rol toe net my skouers en sak terug en pas aan in die hoër temperatuur.

Alles in my het net weer lekker rustig geword sal die kind toe waar as wragtag WEER vir ons ‘n wolk hel-hitte opwerk dat my oë eintlik mistig word. Teen my gebruik vra ek hom toe – Is jy for real? Weer die onskuldige gesiggie wat vir my sê : Die hoër hitte maak die toxins uitkom. Dit help nie vir die vet nie, maar dit is regtig goed vir jou.  Dit was so amper soos dêmmit of ek het daardie kjênd en sy ‘dit help nie vir die vet nie’ oor die kop gedonner met my waterbottel.

Helaas, na 10minute se sauna was ek relatief rustig genoeg om net glimlaggend deur die water wat oor my gesig stroom vir die jong seun – wie se ma hom duidelik nie geleer het van die woord vet voor ‘n vrou nie – te sê : Sweetie, ek het duidelik ‘n gewigsvoordeel bo jou en val vir jou plat sonder om ‘n oog te knip as jy weer water op daardie ding gooi terwyl ek hier sit. Toxins of nie.

In vrede het ek my laaste 10minute gesit met geen verdere verhoogde temperature nie. Slim kind daardie – al het sy ma hom nie geleer van die woord vet nie.

Drome

wilderness

Die wind het ysig om my gevou terwyl die sproei van die see vlindersag op my gesig geval het. Al wat ek kon hoor was die gedreun van die branders teen die rotse. Uit die hoek van my oog sien ek beweging, dit is ‘n meeu. Alleen teen die stormwind dans hy op die lugstrome. Met my oë toe luister ek na die lied van die see. My leegheid vul ek met die klam soutlug.

Nadat ek uit die droom wakker geword het, het ek lank op die stoep gaan sit. Die naggeluide vreemd bekend op my oor. Kruisbeen op die stoel het ek nog ‘n dag ingewag. So op my eie het die besef kom sit in my dat die seisoen weer draai. Die son lig sy kop weer meer berg se kant toe op.

Ek wil so graag my tone gaan druk in die seesand en voel hoe die branders om my bene spoel. Ek wil so graag op my rots gaan sit en net vir ‘n bietjie voel. Ek wil so graag …. nie te bang wees vir die emosies wat saam met my see gaan. Ek wil so graag net weer na my see toe gaan.

Drome het die manier om jou hare verkeerd te vryf en jou te herinner aan wat jy wegpak uit vrees.