
” With great pain comes great change
If you’re not ready to change, then you’re not in enough pain “
Daardie woorde is al so deel van my soos botter wat in varsgebakte brood intrek. As jy elke dag presies dieselfde doen, dink en optree is daar geen manier wat ‘n situasie, denkwyse of jou omstandighede gaan verander nie. Dit is wraggies so eenvoudig soos dit. ‘n Mens kan legio argumente voer en redenasies tot in der ewigheid hou, maar dat jy moet verander as jy ‘n verandering wil sien gaan bly staan soos ‘n paal bo water.
Maklik is dit nie. Skielik moet jy ruggraat groei waar jou wensbeen was. Eers as jy kan staan voor die spieël en hardop vir jouself die reine volle waarheid kan sê (niemand hoef te hoor nie) eers dan is jy reg om elke dag ‘n miniatuur skuifel tree’tjie te gee in die rigting van verandering.
As iets breek kan ‘n mens dit net soveel keer regmaak voor die besef kom sit in jou dat dit weggegooi moet word. Om jou hand oop te maak en te sê : ‘ek het regtig met my alles probeer, maar dit was nie genoeg nie’ – dit breek jou in jou diepste menswees. Daardie teleurstelling kom sit soos ‘n bittervink op jou skouer en sypel koud deur jou menswees.
Ek het nog ‘n lang pad wat ek moet stap, maar ek kan weer gaan sit by my see en my tone in die sand krul en glimlag met my gesig na die son. Net doodeenvoudig sit en die opregtheid van die see en die wind om en in my voel en net wees. Ek besit nie woorde om te beskryf hoe oneindig moeilik dit vir my was om net dit weer te kon doen nie. But I did it.
Vlooi word weer mens. Stukkie vir stukkie. Bietjie vir bietjie. Verandering op verandering.
I’m not heartless – I’ve just learned to use my heart less