Oggend Dinamiek

dinamiek

Met die eerste sontrale wat loer oor die bome teken ek in by my rekenaar en begin werk terwyl die dag breek.  Sielsalige stilte met klassieke musiek wat die gemoed streel.  Neem amper die doring uit die vlees dat ek groudag al sit en werk.  Dit is darem ‘n troos dat ek dit van die gemak van my eie huis kan doen terwyl ek met my slippers aansit, maar steeds.

Terwyl ek nog so in my salige stilkokon sit – tussen die 8 woonstelle in die kompleks is ek die enigste oggendmens – en kyk hoe die lui winterson by die woonsteldeur inkruip hoor ek dit. Deure wat oop en toe gaan en voete wat slof na die parkeerarea.  Voor ek behoorlik irriteerd word – is afterall net na 7 op ‘n Saterdagoggend – word water met die tuinslang in ‘n emmer getap en die nuwe intrekkers regs onder begin hulle kar was.  My irritasie het dadelik oorgeslaan in ongeloof.

Ek mag verkeerd wees in my aanname – met die dat ek einaardige dinge doen in die nag as ek nie kan slaap nie – maar wie de dinges was hulle kar 7uur op ‘n Saterdagoggend!? Sekerlik is daar ander stil aktiwiteite wat jy in jou huis kan doen terwyl ek sielsalige klassieke musiek luister en my katte soos dassies in die son bak?

My oggend dinamiek is nou kanon toe en skielik moet ek eers kyk voor ek met my besemboshare in my pj’s op die stoep gaan sit met my koffie.

Dit is ‘n lieflike sonskynoggend en die herfslug wat deur die oop deure en vensters trek laat my hare eintlik krul van lekker.  Vandag is die tipe dag wat jy kyk oor die berg, glimlag en dankie sê dat elke sintuig van jou wat kan die oggendlied saam met God se natuur sing.

… al moet jy werk = )

 

 

Vreemd Bekend

desert2

” With great pain comes great change

If you’re not ready to change, then you’re not in enough pain “

Daardie woorde is al so deel van my soos botter wat in varsgebakte brood intrek.  As jy elke dag presies dieselfde doen, dink en optree is daar geen manier wat ‘n situasie, denkwyse of jou omstandighede gaan verander nie.  Dit is wraggies so eenvoudig soos dit.  ‘n Mens kan legio argumente voer en redenasies tot in der ewigheid hou, maar dat jy moet verander as jy ‘n verandering wil sien gaan bly staan soos ‘n paal bo water.

Maklik is dit nie.  Skielik moet jy ruggraat groei waar jou wensbeen was.  Eers as jy kan staan voor die spieël en hardop vir jouself die reine volle waarheid kan sê (niemand hoef te hoor nie) eers dan is jy reg om elke dag ‘n miniatuur skuifel tree’tjie te gee in die rigting van verandering.

As iets breek kan ‘n mens dit net soveel keer regmaak voor die besef kom sit in jou dat dit weggegooi moet word.  Om jou hand oop te maak en te sê : ‘ek het regtig met my alles probeer, maar dit was nie genoeg nie’ – dit breek jou in jou diepste menswees.  Daardie teleurstelling kom sit soos ‘n bittervink op jou skouer en sypel koud deur jou menswees.

Ek het nog ‘n lang pad wat ek moet stap, maar ek kan weer gaan sit by my see en my tone in die sand krul en glimlag met my gesig na die son.  Net doodeenvoudig sit en die opregtheid van die see en die wind om en in my voel en net wees.  Ek besit nie woorde om te beskryf hoe oneindig moeilik dit vir my was om net dit weer te kon doen nie.  But I did it.

Vlooi word weer mens. Stukkie vir stukkie.  Bietjie vir bietjie.  Verandering op verandering.

I’m not heartless – I’ve just learned to use my heart less