My wortels lê in die Namakwaland waar reën heiligswater is. Waar daar hande gevat word na ete om te dank vir die reën. Hoogdawerende woorde wat wyd bo ‘n kind se begrip is, maar jy verstaan dat hierdie water lewe gee. Hoop gee. Oumense se rimpelgesigte laat glimlag.
Voor die grou van die dag breek sit jy voor in die bakkie om lande toe te ry. Die reënmeters moet nagegaan word. Soet warm tee in ‘n fles en boerbeskuit is in ‘n blik agter die Isuzu se sitplek. Met ruite oop en Oupa se arm wat beduie van waar nou geploeg kan word, word daar gery tot verby Oulande en Ouhuis tot Dadelpoort.
Alles in jou ruik daardie veld. Jou wese drink die vreugde van die veld tot diep in jou siel. Met elke stop vlieg jy uit die bakkie en met kaalvoete hol jy deur die veld. Die bossies slaan teen jou kaalbene en die veld se reuk word deel van jou soos asem. Met die reën saam vergeet Oupa jy is eintlik ‘n meisiekind wat hoort in die kombuis en word jy meer vertel van veld en skaap en ploeg en saai as wat ‘n meisiekind – volgens ‘n geharde Namakwalander – mag weet.
Dan die groot groot vreugde as jy kan saamgaan as daar geploeg word. Sommer staan staan of sittende op die trekker ry jy saam soos daar geploeg word. Rou aarde vul jou wese en die besies wat sing in die veld vorm deel van die trekker se lied. Om af te spring in die ry om groot klippe wat opgeploeg word agter die lemme op te tel is so alledaags soos om hoenders se lê plekke na te gaan vir eiers.
Vroegdag het die reëns my kom roep. My gedwing om buite te gaan sit dat ek kan onthou hoekom reëns vir my heiligswater is. Hoekom ek altyd my gesig lig om die druppels te voel op my. Hoekom ek my longe vol lug trek om net weer ‘n stukkie van daardie rou Namakwalandse veldreuk in my te kry. My ore hoor die dialek van my mense wat stoele briek sit en reent wat kom lê op jou dak.
Vandag se reëns is my Namakwalandse reent wat kom lê dat die Oulande geploeg kan word.

