Hierdie is ‘n vreemde jaar. Sterk oppad na die middel van die einde van een hoofstuk en die begin van ‘n hele nuwe boek. Somtyds wil ek die tydkorrels vang en ander kere wil ek dit aanjaag.
Engelkind is in haar finale jaar van skool. Die haasbek wipgat is nou ‘n dame wat regmaak vir ‘n lewe buite die nes. Dit is waarlik by tye onwerklik om vorms te sit en invul vir ‘n jaar (of dalk word dit twee) in Amerika. Dit klink nog so lank tot jy die vorm scan en terug stuur. Dan skielik is dit regtig. Nie meer ‘n eendag ding nie. Ons doen dit nou.
Ek maak reg om te leer hoe om iets meer as Mamma te wees. My verwysingsraamwerk strek nie buite daardie woorde nie. Enkelouer gaan eersdaags leer wat dit beteken om NIE ‘n blyplek te soek met die woorde ‘gerieflik naby skole’ nie. Ek gaan kan terug korporatiewe wêreld toe, want die skool gaan nie bel en sê jou kind is siek en jy moet haar kom haal nie. Is nogal nie ‘n ‘perk’ wat jy het as jy in die korporatiewe wêreld wandel nie. Daar was die privaat maatskappye my nog altyd genadig. Elke keer was ek nog geseënd met werkgewers wat verstaan wat dit beteken om enkelouer te wees. Of ek gaan aanpas terug in die korporatiewe wêreld sal ons maar sien.
Dit is vreesaanjaend om reg te maak vir ‘n dubbeldoor nuwe boek en begin. Beplanning is nie my forté nie, maar skielik sit ek met projection spreadsheets wat my laat wonder watter kleur blokkie ek NOG nie gebruik het nie.
Die een is in dollar vir Engelkind. Die week in New York vir ‘orientasie’ moet bereken word en dan nog ‘n week se ‘werk’ voor sy haar eerste loonkoevert ontvang. Iewers moet daar ‘n $99 dollar (wat dit nou prys) ook in berekening gebring word vir ‘n iPhone. Hemele behoede my! Die ander een is projeksie van kostes vir verhuising vir myself. Nog een bevat inkomste vs uitgawes scenarios. Wat nie baie verskil van die huidige uitgawes nie, want minus een is nie veel minder nie. Hard soos dit mag klink.
Tussendeur besluit my kar se battery om die gees te gee. Engelkind begin rokke kyk vir matriekafskeid. Dinge by die werk laat my stom. Net soos ek dink die handel en wandel van die plek kan my wragtag nie meer verbaas nie, sit ek met my kake op die tafel voor my. Dan trek ek nog ‘n dag op die kalender dood en sê vir myself : ‘Nog net 6maande’.
Hierdie jaar is ‘n vreemde jaar voorwaar. Ek is vol positiewe energie. Ek ry supertube saam met ‘n kosbare vriendin dat ek kan onthou ek lewe en soms lê ek in trane. Totaal oorweldig met nie ‘n benul hoe ek die een voet voor die ander gaan sit nie.
Somtyds wonder ek hoe ek al hierdie waansin sou hanteer met iemand wat my hand vashou en sê “We can do this!”
