Nuwe Begin

Wanneer die term ongeneeslik homself aanmeld vir diens in jou lewe kan jy weet dinge gaan radikaal verander.  Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.  Mense gaan jou of bystaan of soos mis voor die son verdwyn.  Vriende gaan hulself met ‘n ‘ek dink aan jou’ boodskap herinner dat jy nie alleen is nie.  Die bietjie wat tyd vir jou inruim sodat jy kan afpak en jou vrese voor hulle sit is yl gesaai, want skielik is daar so min mense wat tyd het vir jou.

In November 2014 was my beplanning 80% afgehandel om te verhuis.  Ek is genooi vir ‘n onderhoud met ‘n lekker vet salaris by ‘n maatskappy waar jy met hakskoene en perfekte hare deel vorm van die miere wat rondskarrel.  So op die kant het ek gespeel met die gedagte dat my Mammie na my toe moet kom.  ‘n Ou boom verplant jy nie net sommer nie, so dit was net ‘n gedagte.  Sy het daarmee gespeel aan haar kant en ek aan my kant.  Dit is nie ‘n sommer-so besluit wat geneem word nie.

Op my verjaarsdag droom ek.  Duidelik in al die kleure  van die reënboog.  My Dad vat my hand met sy glimlag wat so skeef skalks op sy gesig sit en sê “Ek wil vir jou iets wys ousus”.  Hy wys my toe hoe ek sy werkskamer oordoen dat daar plek is vir my besigheid.  Hoe ek die mure ‘n belaglike oranje verf.  Skulpe vir gordyne hang en hy lag vir sy werksbank wat ek spierwit met blou blomme op verf.  Ons sit langs mekaar en hy vertel my van die besigheid wat ek gaan begin daar.  “Jou ma het jou nodig ousus en hierdie is hoe jy die ruimte gaan hê om vorentoe daar te wees vir haar.”

In die nagtelike ure begin ek Google oor die besigheid wat hy my van vertel het.  Ek het waarlik al gehoor van so iets, maar het absoluut geen idee presies wat dit is of hoe dit werk nie.  Ek lees en lees en vra vrae en al meer en meer wil ek begin opgewonde word.  Dit kan dalk net werk.

In die tyd bel besorgde vriende van my Mammie.  Sy het baie versleg en hulle is bekommerd. Oproep na oproep tussen my broer en my skoonsus en my mammie en myself moet ‘n paar moeilike besluite geneem word.  Ek vra bakhand vir verlof en verduidelik dat ons as familie moet gaan sit en groot besluite moet neem wat meer as een mens se lewe raak.

Feestyd ry ek met ‘n besigheidsplan, ‘n droom en die realiteit dat my Mammie ‘n ongeneeslike siekte het wat radikaal versleg het Weskus toe.

‘n Week later ry ek terug met die nodige kapitaal om my besigheid te begin, my droom en die realiteit dat ek nou my Mammie se anker gaan wees en dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie.

Ek het die ongelooflike moeilike taak om my bietjie goedjies tot niet te maak.  Die opsie om te stoor om ‘eendag’ weer te gebruik is nie op die tafel nie. Hierdie skuif is my laaste skuif vir die tyd wat ek nog my Mammie het.  Ek tref reëlings om my masjien aan te koop in Johannesburg en te gaan vir opleiding.  Nagte wat ek nie kan slaap nie begin ek solank my produkte ontwerp.  Ook ‘n neuroloog word gesoek, want my Mammie kan nie onthou dat sy reeds 4jaar terug diagnoseer is nie en sy het nodig om hierdie siekte te erken.

Verder verbreed ek my kennis hoe om te deel met iemand wat ‘n Essential Tremor het.  Wat kan ek doen om haar lewe te vergemaklik.  Ek probeer myself voorberei dat ek my Mammie eersdaag gaan moet help aantrek, want haar liggaam gaan haar dit nie meer toelaat om te doen nie.  Sluit aan by forums en gesels met mense wat my nederig klein dankbaar laat voel vir hulle hulp.

Engelkind is klaar met skool en haar planne om Amerika toe te gaan vorder fluks.  Sy sal my so by tye styf vasdruk en maak of sy nie my trane sien nie. “Ek is so trots op Mamma” hoor ek terwyl ons seker maak hoe ons die vorms moet instuur dat sy kan land uit.

Dit is tye soos hierdie wat jy leer wie jou vriende is.  Wie tyd maak vir jou.  Wat net luister, want daar is niks wat gedoen kan word nie.  Wat saam met jou opgewonde word vir die nuwe toekoms en saam met jou huil vir die magteloosheid wat jou oorweldig.  Wat verstaan hoe ongefokkenlooflik moeilik dit is om te sit en te bepaal watter 10 items jy saamvat terwyl die res verkoop word.  Wat besef wat dit neem om elke oggend op te staan en sterk te wees.

My hart het vrede dat ek reg doen.  Nooit het ek gedink of beplan dat ek terug sou gaan Weskus toe nie.  Ek het egter ‘n ongelooflike groepie mense daar en in my lewe wat my vat soos ek is en my gaan help dra wanneer ek nie meer weet hoe nie.

Hierdie gaan ‘n ongelooflike jaar wees en ek sien in sy totaliteit uit daarna.

Feestyd

#sharethegift

Irrelevant hoe kitch dit in die winkels gemaak word, sal die feestyd altyd ‘n spesiale tyd vir my wees.

Mag elke een van ons herinner word aan die geskenk wat ons gekry het.

Namasté

 

Mary Did You Know

My Engelkind was net bietjie mens gewees toe sy op ‘n dag aan gehardloop kom na my toe – oë vol verwondering – haar arm vir my wys en sê “Kyk mamma, chickenmeats!”

Hierdie is chickenmeats woordloos mooi.

 

Twaalf Jaar

Contrary to what a lot of people believe (or hope), comfort doesn’t take the pain away.

Comfort slides in beside the pain, pulling up a chair so that we have something more than sorrow in our hearts.

Comfort gently expands our spirits so that we can breathe again.

Comfort opens our eyes so that we can see possibility again.

And on those days, whether it is the next day or five years removed, on that day when grief rears its dark head again, comfort helps us remember that pain is not all there is.

Ek mis jou Dad.

Ek mis jou met daardie deel van my menswees wat niemand ooit kon verstaan nie.

Ek wil by jou kom sit en jou vertel van my droom – dat jy vir my sê of ek heel mal is en of ek nog oraait is.

Ek wil dat jy vir Mamma gaan vashou dat haar stukke weer kan pas.

Elke damn dag mis ek jou Dad.