Veranderinge

Die vermoë om te kan aanpas by omstandighede is seker van die gawes wat die minste gekweek word.  Alles en almal het ‘n eier te lê en ouerskap boeke vertel jou lyste vol goed wat jy moet en nie moet doen nie, maar leer ons ooit om aan te pas en aan te hou groei?

Ek glo soos plaasbotter op varsgebakte suurdeegbrood dat as jy nie meer groei nie, kan jy maar net sowel in die grond gespit word.

Terwyl ons aandonner op die pad wat ons glo soos die gospel die pad is waarop ons moet wees en moet bly, is ons blind vir waar ons eintlik moet wees.

Mense bly vir duskant halfeeue in omstandighede wat g’n mens in moet wees nie vir een rede en een rede alleen.  Nou wat anders is daar dan ?

Dit smaak ek wil mos die horrie piep kry dan.

My Engelkind moes die afgelope week hengse besluite neem in haar nuwe grootmens skoene. Hierdie ma se hart het gebreek, maar ek moes maar net vashou aan die hoop dat sy onthou wat ek haar geleer het.  “As hierdie pad jou afgooi, gaan probeer ‘n ander een my kind.  Iewers gaan jou voete ‘n pad trap wat jou hart en siel in harmonie gaan laat sing.”

Vanoggend gaan roep ek en Herbie haar vir werk.  Wat is dan nou beter as babahond asem in jou gesig 06:15 in die oggend?  Tel vir Herbie op die bed (hy is ‘n storie vir ‘n ander dag) en wag.  Soms weet mens mos net jou kind is nou reg om woorde te vorm.

“Ek het besluit mamma” en mamma wag met ‘n hart wat knoptrek.  Terwyl Engelkind verduidelik hoekom sy die besluite neem wat sy neem loop die trane en al wat hierdie mamma kan dink is “I did this right”.  Sy openbaar ‘n wysheid in haar besluite wat my op my knieë het van dankbaarheid al breek my hart saam met die besef wat sy ‘betaal’ vir hierdie besluit.

Ek het my kind teen my aangetrek en net vasgehou.  Dit is soms al wat jy kan doen.  Net vashou.  Dan vee jy jou trane af en begin die nuwe pad stap. Daar is ALTYD iets anders.  Al is dit nie wat jy nou wil hê nie, moet jy soms besef dat waar jy is ook nie help dat jy groei nie.  Daarin lê die geheim van die lewe.  Dink ek allegeval.

Die wysheid om te weet wanneer om van rigting te verander vir die eenvoudige rede dat jy nie meer groei nie.

Is dit ooit maklik om van ‘n pad te draai wat jy ken soos jou eie hande?  Om radikale veranderinge in jou lewe te bring?  Norreflip nie.  Dit is grond moeilik.  Dit neem alles wat jy het en dan nog bietjie wat jy by jou familie, vriende en die bure ook kry om dit te doen.

Dan iewers vorentoe.  Soms ‘n week.  Soms maande.  Soms word dit jare.  Dan gaan staan jy stil met jou gesig na die son toe en jy hoor jou hart en siel in harmonie sing.

Haal diep asem en wag vir die volgende veranderende groei wat jy gaan aanpak.

Eenvoud

Hoekom is dit vir ‘n mens so moeilik om te aanvaar dat die antwoord soms in eenvoud opgesluit lê?

Dit is asof ons ‘n default setting het dat as dit eenvoudig en maklik is, kan dit nie werk nie.  Dit moet moeilik en kompliseerd wees, dan is dit effektief en gaan dit beslis werk.

Ek het ‘n reeks produkte ontwerp en ek karring nou al letterlik weke lank om ‘n spesifieke something else te doen met die hout.

Hoog en laag word navorsing gedoen.  Rollers en verf word gekoop en ek sukkel my agterent los, maar kry net nie lekker die effek gedoen wat ek sien in my kop nie.  Dit lyk oraaaaaaait, maar dit krap soos ‘n krummel in my bra dat dit maar net soos die volgende mens se produk lyk.

So kom loer oom buurman in.  Ons sit sommer agter op die stoep en gesels oor alles en nog wat.  Hy wil nou begin stootskrapers en what have you nots aanmekaar bou vir kinders.  Aangesien die winkel-plêstiek net nie lekker werk vir hom nie.  Ons sit en gesels oor verf en kleur en ek bekla my lot dat my kop en my oë en my hande nie wil sync nie.

Vreeslik verbaas dat ek nou al so lank sukkel met iets so simpel, vra hy my of ek al koekkleursel gebruik het.  Uhmm, sure oom – koekkleursel op hout. Hy het glo iewers gesien en gaan dit met sy hout doen.  As die bloedjies die karretjie kou wil hy darem nou nie dat hulle omkap nie.  Dit was weer sy kriteria vir die hout produk.

Koop toe maar ‘n koekkleursel of twee, wat het mens dan nou om te verloor afterall. Vanoggend begin ek speel met die hout.  Ek het sommer later aan die trippel gegaan want in die eenvoud van koekkleursel begin my produk doen wat ek in my kop gesien het.

Soms meng ek dit met ‘n verf.  Soms sommer net so op die hout.  Soms met varnish.  Soms sonder varnish.  Soms met een laag.  Soms met twee verkillende kleure as lae.

My produk begin lewe en ek glimlag soos ‘n stommerik.

Koekkleursel.

Nie fancy verwe en verskillende tegnieke en rollers en nugter weet wat alles nog nie.

Eenvoudige koekkleursel en ‘n paar hande wat nie omgee om vuil te word nie.

It is always the simple that produces the marvelous.

Toe vind ek jou

My lyf is moeg en kraak op plekke waar ek nie geweet het ‘n mens kan kraak nie.  Eelte begin vorm en op any given day is daar twee of meer stukkende plekke aan my hande.  Somehow is daar altyd ‘n verf streep in my gesig en gister het buurman vir my uitgewys dat daar gom in beide my piggytails is.

But I am at peace.  

Musiek sal altyd ‘n toevlug bly vir my en hierdie twee juwele deel ek oor mens soms onthou en verlang en dan opstaan en verder dans op jou eie beat.