Wanneer die term ongeneeslik homself aanmeld vir diens in jou lewe kan jy weet dinge gaan radikaal verander. Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie. Mense gaan jou of bystaan of soos mis voor die son verdwyn. Vriende gaan hulself met ‘n ‘ek dink aan jou’ boodskap herinner dat jy nie alleen is nie. Die bietjie wat tyd vir jou inruim sodat jy kan afpak en jou vrese voor hulle sit is yl gesaai, want skielik is daar so min mense wat tyd het vir jou.
In November 2014 was my beplanning 80% afgehandel om te verhuis. Ek is genooi vir ‘n onderhoud met ‘n lekker vet salaris by ‘n maatskappy waar jy met hakskoene en perfekte hare deel vorm van die miere wat rondskarrel. So op die kant het ek gespeel met die gedagte dat my Mammie na my toe moet kom. ‘n Ou boom verplant jy nie net sommer nie, so dit was net ‘n gedagte. Sy het daarmee gespeel aan haar kant en ek aan my kant. Dit is nie ‘n sommer-so besluit wat geneem word nie.
Op my verjaarsdag droom ek. Duidelik in al die kleure van die reënboog. My Dad vat my hand met sy glimlag wat so skeef skalks op sy gesig sit en sê “Ek wil vir jou iets wys ousus”. Hy wys my toe hoe ek sy werkskamer oordoen dat daar plek is vir my besigheid. Hoe ek die mure ‘n belaglike oranje verf. Skulpe vir gordyne hang en hy lag vir sy werksbank wat ek spierwit met blou blomme op verf. Ons sit langs mekaar en hy vertel my van die besigheid wat ek gaan begin daar. “Jou ma het jou nodig ousus en hierdie is hoe jy die ruimte gaan hê om vorentoe daar te wees vir haar.”
In die nagtelike ure begin ek Google oor die besigheid wat hy my van vertel het. Ek het waarlik al gehoor van so iets, maar het absoluut geen idee presies wat dit is of hoe dit werk nie. Ek lees en lees en vra vrae en al meer en meer wil ek begin opgewonde word. Dit kan dalk net werk.
In die tyd bel besorgde vriende van my Mammie. Sy het baie versleg en hulle is bekommerd. Oproep na oproep tussen my broer en my skoonsus en my mammie en myself moet ‘n paar moeilike besluite geneem word. Ek vra bakhand vir verlof en verduidelik dat ons as familie moet gaan sit en groot besluite moet neem wat meer as een mens se lewe raak.
Feestyd ry ek met ‘n besigheidsplan, ‘n droom en die realiteit dat my Mammie ‘n ongeneeslike siekte het wat radikaal versleg het Weskus toe.
‘n Week later ry ek terug met die nodige kapitaal om my besigheid te begin, my droom en die realiteit dat ek nou my Mammie se anker gaan wees en dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie.
Ek het die ongelooflike moeilike taak om my bietjie goedjies tot niet te maak. Die opsie om te stoor om ‘eendag’ weer te gebruik is nie op die tafel nie. Hierdie skuif is my laaste skuif vir die tyd wat ek nog my Mammie het. Ek tref reëlings om my masjien aan te koop in Johannesburg en te gaan vir opleiding. Nagte wat ek nie kan slaap nie begin ek solank my produkte ontwerp. Ook ‘n neuroloog word gesoek, want my Mammie kan nie onthou dat sy reeds 4jaar terug diagnoseer is nie en sy het nodig om hierdie siekte te erken.
Verder verbreed ek my kennis hoe om te deel met iemand wat ‘n Essential Tremor het. Wat kan ek doen om haar lewe te vergemaklik. Ek probeer myself voorberei dat ek my Mammie eersdaag gaan moet help aantrek, want haar liggaam gaan haar dit nie meer toelaat om te doen nie. Sluit aan by forums en gesels met mense wat my nederig klein dankbaar laat voel vir hulle hulp.
Engelkind is klaar met skool en haar planne om Amerika toe te gaan vorder fluks. Sy sal my so by tye styf vasdruk en maak of sy nie my trane sien nie. “Ek is so trots op Mamma” hoor ek terwyl ons seker maak hoe ons die vorms moet instuur dat sy kan land uit.
Dit is tye soos hierdie wat jy leer wie jou vriende is. Wie tyd maak vir jou. Wat net luister, want daar is niks wat gedoen kan word nie. Wat saam met jou opgewonde word vir die nuwe toekoms en saam met jou huil vir die magteloosheid wat jou oorweldig. Wat verstaan hoe ongefokkenlooflik moeilik dit is om te sit en te bepaal watter 10 items jy saamvat terwyl die res verkoop word. Wat besef wat dit neem om elke oggend op te staan en sterk te wees.
My hart het vrede dat ek reg doen. Nooit het ek gedink of beplan dat ek terug sou gaan Weskus toe nie. Ek het egter ‘n ongelooflike groepie mense daar en in my lewe wat my vat soos ek is en my gaan help dra wanneer ek nie meer weet hoe nie.
Hierdie gaan ‘n ongelooflike jaar wees en ek sien in sy totaliteit uit daarna.
Jy weet waar ek is. Jy het my nommer. Jy het altyd ‘n bed in my huis. Ek kan dalk net ‘n skouer wees, maar dis ‘n moerse breë skouer. Dit gaan taf wees, girl, maar ‘n mens het forever net een ma. Namasté vriendin. You are one of a kind.
Is daardie weet wat jou nommer is, dat daar altyd ‘n bed is vir my, daardie skouer wat al baie gedra het saam met my wat help vriendin.
Ons gaan net moet werk aan die stoel kwessie op jou stoep ( :
Ek het intussen nog ‘n stoel bygekry. Sorted 😉
Sterkte vir die jaar. Dis regtig nie enige persoon wat sal doen wat jy nou doen nie.
Baie dankie Toorts. Somtyds vang die omvang van die besluit my, maar dan word ek eers weer opgewonde vir my eie besigheid en weer in ‘n huis met gras woon en oor die pad stap na die bure.
Sjoe – om so ‘n werklikheid te kan lees wat ons soms in die oë staar. Defnititef is hierdie lewe nie vir sissies nie, of jy gelowig of ongelowig is.
Sterkte met jou besluite en mammie.