Wees

qualities

Ek het genoeg letters uitgewis vandag om die volgende jaar se inskrywings te vul.  Niks tart jou meer as woorde wat oorvol in jou lê terwyl die cursor net flikker op die leë wit blad.

Vir die eerste in maande het ek die rugstring gehad om swart op wit te sit hoe ek ‘n situasie gesien het.  Uitgesit hoe dit in my gevoel het.  In so min as moontlik woorde probeer vra : wat as daardie skoen aan jou voet gesit is?  Alles opgeskraap en bymekaar geskraap vir niks.  Vir ‘n stupid sekonde lank het ek gedink dat ek na maande se wroeg in my gaan closure kry.  Dat ek gaan verstaan.   Die witlint om die swart boksie knoop en dit wegpak as die letsel vir altyd op my pols.

Ek is woorde kind wat dinge bevraagteken en uitmekaar trek tot ek s’n kan maak daarvan.  Tot die vrede in my binneste kom lê soos koel water op ‘n snikhete dag.  Ek rafel en krap en karring tot op die been.  Tot my eie spyt en teleurstelling.  Elkeen van ons probeer op ons eie manier dinge verwerk.  Ongelukkig vir my pak ek my boksies vol woorde.  Woorde wat ek nooit gaan hoor nie.  Verduidelikings wat my nie beskore is nie.  ‘n Verstaan wat nooit deel van my daaglikse asem gaan wees nie.

Ek het geleer dat my seer en teleurstelling en vernedering nie ‘n verduideliking gaan kry nie, want daar is slegs verskonings – geen redes nie.

Ek het geleer dat al vra jy hoe mooi en al sit jy jou alles op die tafel, dit geen waarborg is dat iemand dit sal koester en respekteer nie.

Ek het die besluit geneem dat vriendskap meer werd is as verstaan.

2 thoughts on “Wees

  1. WOW

    dit is ‘n woord wat ek seker baie gebruik, want nou die ander dag kom staan my kleinkind ( lig van ouma se lewe) langs my en ons kyk na iets en sy hak af WOW ouma!!!! en ek het besef dat dit wat ek sê en doen soos ‘n klankbaan is vir die klein mensie hier aan my sy………

    ek sê vandag WOW vir jou, vir jou insig, vir jou eerlikheid en veral vir jou SEER!!!!!

Lewer kommentaar