Die wind het ysig om my gevou terwyl die sproei van die see vlindersag op my gesig geval het. Al wat ek kon hoor was die gedreun van die branders teen die rotse. Uit die hoek van my oog sien ek beweging, dit is ‘n meeu. Alleen teen die stormwind dans hy op die lugstrome. Met my oë toe luister ek na die lied van die see. My leegheid vul ek met die klam soutlug.
Nadat ek uit die droom wakker geword het, het ek lank op die stoep gaan sit. Die naggeluide vreemd bekend op my oor. Kruisbeen op die stoel het ek nog ‘n dag ingewag. So op my eie het die besef kom sit in my dat die seisoen weer draai. Die son lig sy kop weer meer berg se kant toe op.
Ek wil so graag my tone gaan druk in die seesand en voel hoe die branders om my bene spoel. Ek wil so graag op my rots gaan sit en net vir ‘n bietjie voel. Ek wil so graag …. nie te bang wees vir die emosies wat saam met my see gaan. Ek wil so graag net weer na my see toe gaan.
Drome het die manier om jou hare verkeerd te vryf en jou te herinner aan wat jy wegpak uit vrees.

Dis waar daai nê, mens kan probeer weghardloop van alles af, maar nooit van jouself af nie.
Tog hardloop ons en is dan erg verbaas as dit nie gehelp het nie.
ek stem so saam. ‘n Mens onderdruk ietsen gaan goed aan, en dan, een nag, droom jy oor dit wat jou na aan die hart le….