Verantwoording

God het ‘n besonderse manier om ons toe te laat om op die regte tyd op die regte plek te wees.

Ek het een aand in ‘n swak verligte straatjie gestap toe ek die gedempte gille hoor vanuit ‘n digte klompie bosse langs die sypaadjie. Ek het stadiger gestap om seker te maak ek hoor reg en amper paniekerig begin raak toe ek besef dat ek heeltemal reg hoor. Dit was die onmiskenbare geluide van ‘n gestoei : swaar asemhaling, verwoede geworstel en materiaal wat skeur. Slegs meters van waar ek staan word ‘n vrou aangerand.

Moet ek betrokke raak? Ek was bevrees vir my eie veiligheid en het myself verwens omdat ek skielik besluit het om met die nuwe roete huistoe te loop vanaand. Wat as ek net nog ‘n statistiek word? Moet ek nie eerder na die naaste telefoon toe hardloop en die polisie bel nie?

Alhoewel dit soos ‘n ewigheid gevoel het, het die gedagtes wat so deur my kop maal slegs ‘n paar sekondes geneem, maar alreeds het die vrou se uitroepe al meer desperaat begin word. Ek het geweet dat ek vinnig sal moet optree. Hoe kan ek wegloop van dit wat hier besig is om te gebeur? Nee, het ek finaal besluit, ek kan nie my rug keer op die noodroep van die onbekende vrou nie, al beteken dit dat ek my eie lewe moet waag.

Ek is nie ‘n brawe man nie, nog minder atleties of sterk gebou. Ek weet nie waar ek die innerlike krag en fisiese sterkte vandaan gekry het nie – maar toe ek besluit om die vrou te hulp te snel het ek gevoel of ek op ‘n vreemde wyse verander word. Ek het agter die bosse ingehardloop en die aanvaller van die vrou af weggegryp. Al stoeiende het ons op die grond beland en na ‘n paar minute se onderlinge gekarnuffel het die aanvaller op die vlug geslaan.

Uitasem, het ek vinnig orent gekom en na die vrou geloop, wat gebukkend agter die boom geskuil het terwyl sy huil. In die donkerte kon ek skaars die buitelyne van haar figuur uitmaak, maak ek kon beslis haar bewende skok aanvoel. Om haar nie verder te verskrik nie het ek op ‘n afstand met haar gepraat.

“Dis OK,” sê ek kalmerend. “Die man het weggehardloop. Jy is nou veilig.” Daar was ‘n lang stilte en toe hoor ek die woorde, geuiter in ongeloof en verwondering.

“Pappa, is dit jy?” en vanuit die bosse stap my jongste dogter, Katherine.

(Skrywer Onbekend)

Ons vra te graag – Waar was God?

Ons wil te maklik die blaam skuif

Ons wil te graag ons misnoë om die vuur uiter

Solank ons net nie betrokke hoef te raak nie

Somtyds wil ons vir God tot verantwoording roep en Hom vra waarom laat Hy dinge soos verkragting, aanranding, mishandeling, armoede, ongeregtighede, seerkry, pyn en so baie ander ellendes toe om te gebeur in die wêreld … maar kan Hy nie presies dieselfde vir die mensdom vra nie?

My Eiertjie

Toorts nooi my om ‘n eiertjie te lê en hier is dit = )

Ek het nie ‘n skrywe raak gelees wat my ‘n eiertjie wou laat lê of aanvullende woorde tot ‘n reeds geskrewe iets wou voeg nie.  Ek het wel weer gaan stilstaan by Bileam se skrywe wat my gedagtes laat gaan het oor vriendskap, vertroue en die anonimiteit van die blogsfeer.

My vriende tel ek op my een hand met heelpaar vingers oop.  Eers was dit vir my erg, nou besef ek daardie paar wat ek kan tel kan ek altyd tel. No matter what.  Kwaliteit sielsvriende nie kwantiteit oppervlakkige mense wat op die spoor van die lewe langs my verby beweeg nie.

Daardie tipe vriendskap is heilig.  Dit is oneindig kosbaar want dit is nie aldag dat jy die voorreg het om so vriend / vriendin te hê nie.  Daardie een mens wat waarlik alles weet wat daar te weet is oor jou en dit is oraait.  Geen oordeel.  Geen teregwysing.  Net ‘n stille aanvaarding dat daardie deel is van my.

Vertroue is integraal deel van daardie vriendskap.  Daarsonder is dit ‘n kwantiteit oppervlakkige telling wat jou vra oor die weer, hoeveel reën het geval en watter tipe room verkies jy om te gebruik.  Sodra daar oor ietsie dieper as vooraf gekiesde onderwerpe gepraat word, duik iets skielik op en die persoon verdwyn.  So leer jy ook wat jy met wie kan bespreek.

Wat die blogsfeer in berekening bring.

Ek weet van een persoon in my lewe buite die skerm wat weet ek blog.  My mense weet ek is laf vir skryf.  Dat ek weer skryf ook.  Ek het egter gekies dat hulle nie weet waar ek my skrywes heen neem nie.  Wat die terminologie is daarvoor weet ek nie.  Miskien is ek eenkeer te veel al ignoreer as ek my menswees leeg skryf, want ek praat te vinnig en dan hoor mense totaal verkeerd.  Wat ek wel weet is dat hulle nie sal verstaan hoekom ek kies om my emosies voor sogenaamde vreemde oë bloot te lê terwyl hulle waarlik nie ‘n benul het hoe diep my seer lê nie.

Hier is hoekom.

Die enkele mens wat weet ek skryf hier as Vlooi het gekies om te stap uit my lewe.  ‘n Sielsvriend.  ‘n Veilige hawe.  Jy weet wat seer is as jy ophou voel binne jou.  Jy verstaan die kosbaarheid van vriendskap as selfs dit jou ontneem word.

My eiertjie?

My eiertjie is dat vreemde oë somtyds soveel sagter kyk na jou menswees wat jy met moeite – en ‘n vertroue wat nie eie is aan jou nie – oopmaak en erkenning gee daarvoor.  Wat krom woorde reguit lees.  Wat moeite doen om te kom inloer op ‘n platvorm wat  ‘n hawe vir jou is.  Wat miskien nie altyd weet wat om te sê nie, maar met ‘n gesiggie of ‘n druk van ‘n like knoppie sê – ek het gehoor.  Iemand daarbuite het gehoor en dit is oraait dat jy so voel.

Hier waar ek Somtyds Vlooi mag wees en my ongenaakbare koue mure wat almal buite hou kan laat sak en mag hardop sê ek voel so alleen en verwerp.

Hier is waar ek kan onthou dat ek Somtyds Vlooi was vir iemand so oneindig kosbaar.

Hier waar ek vandag wil vra – lees ‘n ander se woorde met sagte oë – want jy weet nie wat dit geneem het om dit te vorm nie.