Bergrus

Vlooi se eie kiekie

Vlooi se eie kiekie

Hierdie is ‘n week wat my op elke denkbare manier beproef.  Emosioneel, geestelik en liggaamlik is ek stil moeg.  Dit is ‘n anderste moeg.  ‘n Lamte wat tot in my koue binneste geskuif het.

Na die soveelste mens op my gil soos ‘n pou boek ek myself uit saam met die manne wat berg toe gaan vir ‘n vinnig heen en terug.  Ek besef as ek nie nou tot rus kom in die natuur nie, gaan daardie laaste garingdraadjie daarmee heen wees.

Kamera oor die skouer sit ek vernaam links voor.   Neus amper teen die ruit gedruk –  ek wil eerste sien.  Honger drink my oë die bome in.  Ek wil vra dat ons stop, want ek wil gou kaalvoet deur die woud hardloop.  Iets keer my, want ek weet hulle sal nie verstaan nie.

Die bakkie wat stop en ek wat uitspring is een.  Die manne gaan werk en ek stap die veld in.  Hulle weet om te skrou as hulle klaar is.

Ek wens steeds vir die woud, maar die veld is genoeg.  Dit is so oneindig stil.  Jy hoor net die wind wat speels deur die lang veldgras sing.  Die mis rol oor die kranse agter my terwyl ek handeviervoet rondkruip om ‘n pers blommetjie af te neem.  Ek gaan lê sommer op die naat van my rug en vergeet vir ‘n stukkie dat ek eintlik skrikkerig is vir gediertes wat in die bosse skuil.  My hand vou om die klippie om my nek en met ‘n diep sug staan ek op om verder te ontdek.  Nou is nie die tyd of die plek om te wonder hoekom ek die klippie dra nie.

My menswees trek ek vol berglug terwyl ek die fraaiste pienk blommetjie ontdek.   Daar hoor ek dit toe.  Die gras se lied verander en sonder dat ek dit besef glimlag ek en lig my gesig boontoe.  Die eerste vlaag reën steel my asem terwyl ‘n lag diep uit my borrel.  Dit voel vreemd om te lag net oor lag lag is.  Ek tiekiedraai in die reën voor ek gaan sit op ‘n klip en net is.

Ek is net terwyl ek die lied luister van die reën.  Ek is net terwyl die trane warm meng met die koue reën.  Ek is net terwyl ‘n sug diep uit my menswees losskeur en as ‘n snik oor my lippe breek.

Die geskrou van die manne roep my terug bakkie toe.  Hulle verstaan nie hoekom ‘n mens in die reën wil sit en dit geniet ook nog nie, maar ek is oneindig dankbaar vir die tydjie wat ek my siel kon rus gee in die egtheid van die veld.

IMG_3001

Vlooi se eie kiekie

6 thoughts on “Bergrus

  1. Ai Vlooi, jou ervaringe wat jy met ons deel – praat meeste van die tyd spesifiek met my siel……
    “Ek ìs net terwyl ek die lied luister van die reën . . . . Ek ìs net terwyl die trane warm meng met die koue reën. …… Ek ìs net terwyl ‘n sug diep uit my menswees losskeur en as ‘n snik oor my lippe breek.”
    En soos die gesegde tereg sê – ‘ gooi jou hartseer vir die reën, dan huil jy nooit alleen..’ – so kry baie van ons sulke oomblikke – nèt omdat ons ìs…..
    Ek geniet jou Blog ontsettend baie…..dki!!!

    • Gooi jou hartseer vir die reën. Ek is gaande vir die gedagte.

      Dankie Ina – dit is ‘n kompliment wat ek veilig in my hart gaan bêre.

Lewer kommentaar