Ek is glad vir sport aanmekaar gesit nie. Dit is ver bo hierdie mens se vuurmaakplek. Die konsep agter sport is deel van my redenasie vermoë, maar ek kyk eerder hoe die gras groei voor ek ‘n sportgeleentheid moet kyk. Min dinge is vir my erger as om so lank stil te sit en net een iets te doen. Duskant onmoontlik vir hierdie Vlooikind.
Ek lees egter nuus en weet so partykeer wat waar aangaan. Een daarvan is Lance Armstrong. Ek ken die man nie. Weet hy ry fiets, weet hy het klomp geelhempies gewen en het ‘n kleinhuisie vol mense motiveer om teen kanker te fight en te wen. Toe die media storm oor sy kop bars wou ek vra : Nou wat van die goeie goed wat die man gedoen het? Is daardie nou ook van nul en gener waarde?
Ek het maar stil gebly en so by myselwers vir hom sterkte gesê vir die storm wat sy skip herwaarts en derwaarts gooi. Vir elkeen wat hom kruisig en nie eens ken nie wou ek vra : Hey jy met die hoop klippe, weet jy wat wat sy gunsteling kleur is? Wat doen hy voor hy gaan slaap? Weet jy hoeveel ure hy op sy knieë deurbring al dan nie? Ken jy hom of lees jy ook maar soos ek ander se woorde oor hom?
Net soos met Hansie se sogenaamde skandaal wil ek vandag sê : Respek Mnr Armstrong. Dit neem ‘n moerske grootman om jou foute hardop te erken en te sê ek was verkeerd. Om op te staan en te sê : ek kan nie regmaak wat ek verkeerd gedoen het nie, maar ek gaan dit nie verder doen nie. Die res wat nog so sit by hulle kliphoop en donker geheime (wat hulle nie eens vir hulself wil erken nie), moet maar gooi – jy is van vandag af groter as hulle.
Vrede vir jou Lance

Dis die mensdom, ons sal eerder die lelike raaksien, voor die goeie. En ons sal iemand veroordeel vir die een verkeerde ding wat hy / sy gedoen het en ons blind hou vir die honderd goeie / reg dinge wat hy / sy ook gedoen het. Ek dink as mens net altyd onthou – “laat die een wat sodner sonde is die eerste klip gooi” sal die wêreld ‘n soveel meer vredevolle plek wees.
en solank ons ander se foute aan ‘n vlagpaal kan hys vergeet ons van ons eie en sien niemand verder nie. Is die mensDOM soos jy sê Son
Middagsê Vlooi
Jy het Ding darem nou hier laat dink, hoor. Ding weet nie genoeg om enigiets te sê nie. Ding het nog nooit veel erg aan fietsryers gehad nie. Daar is mense wie fietsry en dan is daar fietsryers. Mense wie fiets ry, word deur Ding bewonder. Dis met fietsryers wie Ding ‘n probleem het. Mense wie fiets ry, maak van Ding ‘n mens wie ‘n voertuig bestuur. Fietsryers maak van Ding ‘n motorbestuurder.
Maar dit daargelaat. Die relevansie daarvan is dat Ding nie veel aandag geskenk het aan die Lance Armstrong-verskynsel nie. Net nog ‘n naam. Iewers langs die pad sou iets vir Ding laat besluit het as Ding dan nou ‘n mening MOET hê, sal dit wees dat hierdie man se prestasies net TE goed is. En as iets TE goed is…
En dit was dit. Nou, nou kan ‘n mens seker redeneer “die doel heilig die middele” en Ding dink dis waar Ding se klipsit oor hom sal eindig. Sy doel het die middele geheilig. Ding is helemal bereid om saam met jou die man te salueer vir die doel wat hy wel bereik het.
Wat Ding eintlik opval, is die mense by die kliphope. Net party dae wens Ding almal wil almal se kliphope uitput en gooi tot alle arms lam is. Want daar is hopeloos te veel mense wie by hulle kliphope sit en wanneer niemand kyk nie, ‘n klip gooi in sluipskutter-styl; of nog beter – onderlangs ‘n klip aangee vir ‘n buurman/-vrou en hom/haar kry om die klip te gooi. Beste nog: om ‘n voorsiener van klippe te word en dan dit net te los en te kyk hoe klipgegooi word en dan te sê dis wat mense nie moet doen nie. Hoekom dan in die eerste plek die bleddie klippe voorsien?! Hmmm, jammer, Ding raak Duitserig… Maar net party dae, veral in hierdie land, wens ek regtig ons kan ‘n slag regtig klipgooi en klaarkry. Daar is te veel slim planne, politiek en mooi praatjies betrokke. Ons is hopeloos te korrek en geveins. Frustrasie word net so lank deur ‘n damwal van korrektheid gekeer.
Maar dis net party dae dat Ding so voel. Ding het egter lankal Ding se eie glashuis se vensters self uitgeskop! Dis die enigste manier – as jy in ‘n glashuis woon, skop self die vensters uit en kry klaar. Soos Mr Armstrong – nou is sy vensters moer toe, nou kan hy maar self begin rotse bymekaar maak! O, en terwyl Ding nou aan die gang is, man, skop nie net die vensters uit nie, speel Simson en ruk sommer die mure ook om!
Smaak my my bui het nou by joune aangesteek!
Vlooi sien Dingeling verstaan van kliphope. Onlangs moes ek aanhoor : moet jy iets so reguit sê? Ek kan steeds nie verstaan hoekom dit so verkeerd anders van my is sonder klippe op die vlakte te bly nie.
ghieghieghieghie… Ding wetie of dit maar net ‘n manier is nie… daai sê van ‘n nommer presies nes hy is. Miskien is dit ‘n vermoë wat met ervaring kom; miskien is dit ‘n talent? Maar Ding vrek vir mense wie ‘n nommer by die nommer kan roep. Staan nou nog dikwels verstom oor Veerkie se vermoë om sonder ophef, heel gemaklik, geredelik en kalm, ‘n nommer presies by sy hoeveelheid te kan roep. Mán!
Woon op jou vlakte, Vlooi – daar waar jy die stofstreep kan sien op die horison en jy genoeg ruimte en tyd het om presies uit te werk of dit nou gister of môre se stofstreep is wat jy sien, sodat jy presies kan voorberei en kan weet.
Op jou eie wysheid sal jy salig word!
Ek hoop maar net hy het dit regtig bedoel….maar iets krap aan die die storie wat dit vir my na ‘n publisiteits foefie wil laat lyk. Net so ‘n gevoelente wat ek kry oor die feit dat daar teenoor Oprah gebieg is, dat hy daarop aandring om weer professioneel deel te neem en dat dit steeds voorkom of hy nie regtig iets daarmee fout sien nie – want almal doen dit mos.
Wat vir my effens aardig lees aan die hele storie DMI is dat hy niemand ‘name’ nie. Net hy en homselwers. Daardie is vir my effens dik vir ‘n daaler.